Die rand het Woensdagoggend by sy beste vlakke in twee maande verhandel. Handelaars verwag dat die geldeenheid verder kan versterk nadat die ANC-leierskapsverkiesing "glad" verloop het.
Die geldeenheid het 'n hupstoot ontvang nadat pres. Jacob Zuma herkies is as president van die party en sakeman Cyril Ramaphosa verkies is tot adjunk-president.
"Daar kon 'n verskuiwing gewees het na 'n leier of 'n groep leiers wat ten gunste is van groter staatsinmenging," sê Christopher Shiells, 'n ontleder van ontluikende markte by Informa Global Markets.
"Beleggers sien Ramaphosa as 'n voorstander van die sakesektor en hulle hoop dat vroeë tekens van 'n meer sake-vriendelik benadering tydens die res van die konferensie ontwikkel kan word."
Die rand het teen 09:00 teen R8,46 vir 'n dollar verhandel.
"Dit is goed vir die markte om die omgewing waarin verhandel word te verstaan - en dit is duidelik dat met Zuma aan die stuur gaan dinge maar net aangaan soos voorheen," het ontleders van die beleggingsgroep ETM in 'n verklaring gesê.
Met verwysing na Ramaphosa, het die ontleders bygevoeg dat die markte tevrede kan wees met iemand wat die sakesektor verstaan en ook die belangrikheid besef dat die staat daad by woord moet voeg.
Die konferensie kom Donderdag tot 'n einde, en met die leierskapsverkiesing agter die rug, sal beleggers nou fokus om enige beleidsveranderinge soos nuwe regulasies of belasting in die mynsektor.
Na verwagting gaan daar wel aankondigings hieroor kom nadat Nhlanhla Nene, adjunk-minister van finansies, Maandag gesê het dat die regering nie "roekeloos" gaan wees met die veranderinge nie.
Die rand het ook voordeel getrek uit toenemende optimisme dat Amerikaanse politici 'n ooreenkoms kan bereik oor hoe om die kombinasie van skerp regeringsbesnoeiing en belastingverhogings, wat aan die begin van 2013 in werking moet tree, vermy kan word. Indien daar nie 'n ooreenkoms bereik word nie, sal dit na verwagting tot 'n resessie lei in die wêreld se grootste ekonomie.