Johannesburg. – Onverwagse agteruitgang in die Amerikaanse vervaardigingsektor het wêreldmarkte gistermiddag tot in die rooi gedruk.
Die JSE se indeks van alle aandele het 0,17% laer op 33 653 punte gesluit. Die hulpbronne-indeks het die meeste gedaal – met 0,93%.
Die beurs het traag geopen, maar saam met Europese beurse veld gewen, onder meer omdat data oor die vervaardigingsektor uit die eurogebied verwagtinge oortref het.
Die rand het tot R8,10 teenoor die dollar verstewig – sy sterkste vlak die afgelope sewe weke. Dit het gisteraand vroeg weer tot R8,17 verswak.
Die S&P 500-indeks het sy vroeë winste ingeboet, onder meer omdat die Amerikaanse vervaardigingsektor in Junie vir die eerste keer in drie jaar ingekrimp het.
Marksentiment het ook versuur in reaksie op die nuus dat die werkloosheidskoers in die eurogebied in Mei tot 11,1% geklim het. Dit het beleggers se aptyt vir risiko weer laat verdwyn en hulle laat terugvlug na die dollar.
Die swakker vooruitsigte vir Europa het die verwagtinge versterk dat die Europese Sentrale Bank (ESB) Donderdag rentekoerse verder sal verlaag.
Ion de Vleeschauwer, hoofhandelaar van Bidvest Bank, sê markte plaas nou al hoe meer druk op die ESB om die gevolge van die eurogebied se skuldkrisis met slapper monetêre beleid te probeer teenwerk.
De Vleeschauwer waarsku egter dat laer rentekoerse nie die eurogebied se langtermynprobleme gaan oplos nie.
“As die blote verlaging van rentekoerse die manier was om alle ekonomiese probleme op te los, sou ontwikkelde ekonomieë nie in die penarie gewees het waarin hulle hul tans bevind nie,” sê hy.
De Vleeschauwer sê die rand het verlede week verstewig danksy positiewe nuus uit die Europese Unie se beraad en portefeuljevloei na Suid-Afrika.
Volgens die JSE was buitelanders verlede week netto kopers van R2,6 miljard se Suid-Afrikaanse effekte.
John Cairns en Josina Solomons, ontleders van Rand Merchant Bank, sê die invloei in die effektemark het die waarde van die rand ondersteun terwyl Suid-Afrika se handelstekort groter geword het.
“Ons is steeds positief dat die rand oor ’n tydperk van ’n paar maande sal verstewig.”