Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

’n Week van hoogtepunte

Deur: Frans de Klerk 2012-08-12 17:51
Johannesburg. – Die indeks van alle aandele het die afgelope week verskeie hoogtepunte bereik.

Die momentum na bo sal behou word en die indeks kan bo 34 800 konsolideer, maar ongelukkig is die mark nou tegnies in ’n oorgekoopte situasie, wat maklik winsneming kan ontketen.



WBHO

WBHO word beskou as die diamant onder die konstruksie-aandele.

’n Stygende driehoek (gewoonlik positief) is besig om op die daggrafiek van sy aandeelprys te ontwikkel.

Die positiewe invloed van die moontlike formasie sal eers duidelik begin word as die aandeelprys opwaarts deur lyn A (R134,50) kan breek.

Spekulante kan aankope op grond van tegniese oorwegings doen as die aandeelprys bo lyn A is, maar gebruik lyn B (R123) as keerverlies om kapitaal te beskerm.

Wanneer lyn A in ’n steunvlak verander en die momentum na bo toeneem, is die moontlike teiken R155.

Medium- en langtermynbeleggers moet onthou as die prys onder lyn B is, kan die aandeel baie maklik onder winsneming deurloop. Dan kan die prys later maklik tot R110 daal.



Shoprite

Shoprite behandel aandeelhouers baie goed. Sy prys-verdienste-veelvoud van 29 is hoog, maar dit beteken nie dat die aandeelprys nie meer kan styg nie.

Dit haal kort-kort nuwe hoogtepunte en lyn A (R145) op die daggrafiek hou beleggers gelukkig. Hulle moet eers bekommerd raak wanneer dié lyn in weerstand verander.

Vir spekulante is dit ’n momentum-aandeel en hulle kan dit koop om die lopies na bo te benut, maar gebruik R160,50 as keerverlies om kapitaal te beskerm.

Hou net in gedagte dat “momentum-aandele” ook uitasem kan raak!

Vir medium- en langtermynbeleggers is die momentum na bo goed gevestig.

Frans de Klerk is ’n onafhanklike tegniese ontleder. E-pos fdk@telkomsa.net. 
«Terug