Suid-Afrikaanse huishoudings se kontantvloei-situasie het weliswaar in die derde kwartaal verbeter, maar hulle is slegter daaraan toe wat hul balansstaat betref.
Dié teenstrydige situasie is ’n aanduiding dat plaaslike en internasionale ekonomiese omstandighede glad nie vertroue inboesem nie.
Die ideale situasie is dat sowel die kontantvloei as die balansstaat van huishoudings stewig verbeter – en dit manifesteer gewoonlik in goeie makro-ekonomiese syfers.
Uit die Suid-Afrikaanse Reserwebank se kwartaalblad, wat Donderdag uitgereik is, blyk dit dat huishoudings se bruto inkomste in die derde kwartaal 1,7% meer was as hul uitgawes (inkomstebelasting, betalings aan skuld en verbruiksbesteding).
Dit kan toegeskryf word aan ’n styging van 9,2% in die tempo waarin inkomste uit salarisse en lone in die derde kwartaal toegeneem het vergeleke met die tweede kwartaal.Terselfdertyd het die tempo van verbruiksbesteding afgeneem van 9,7% in die tweede kwartaal tot 8,2% in die derde kwartaal.
Dit het huishoudings in staat gestel om hul spaartempo te versnel.Maar die verbeterde makro-finansiële posisie is nie alle huishoudings beskore nie.
Uit ’n indeks wat die finansiële kwesbaarheid van verbruikers meet, blyk net die hoë inkomstegroepe het ’n stadium van finansiële sekuriteit bereik.
Dié indeks is saamgestel deur MBD Credit Solutions en die Buro vir Marknavorsing aan die Universiteit van Suid-Afrika.Die middel- tot lae-inkomstegroep se finansiële situasie het verder verswak.Huishoudings se netto batewaarde (bates minus laste) het in die derde kwartaal verswak vergeleke met die tweede kwartaal.
Dit kan toegeskryf word aan sowel ’n daling in huishoudings se batewaarde as ’n styging in hul skuld oftewel laste.Nadat die waarde van huishoudings se bates in die eerste en tweede kwartaal in tempo’s van onderskeidelik 5% en 6% toegeneem het, het dit in die derde kwartaal met 0,4% gedaal. Die laer batewaarde is gedryf deur ’n daling in die waarde van finansiële bates (soos aandele, effekte en aftreefondse).
Daarteenoor het die waarde van eiendomsbates verder toegeneem – wat die daling in finansiële bates in ’n mate geneutraliseer het.Aan die lastekant het die tempo waarin huishoudings se skuld toegeneem het, versnel van 3,76% in die tweede kwartaal tot 3,82% in die derde kwartaal.
Weens die dalende batewaarde en stygende laste het Suid-Afrikaanse huishoudings se netto batewaarde in ’n tempo van 1,4% verswak in die derde kwartaal nadat dit in die tweede kwartaal met 7% gestyg het.