In scenario-beplanning word die term “volmaakte storm” gebruik wanneer ’n aantal kerndrywers in ’n toekomsscenario saamval en die resultaat is ’n unieke sameloop waar jy gewoonlik min beheer het oor die verloop van sake.
Dit is gewoonlik ’n situasie waar al die negatiewe drywers saamval en ’n situasie skep wat moeilik bestuurbaar is.
Ek vermoed ons word vinnig in die volmaakte storm ingesleep.
Die drywers wat saamval om hierdie situasie te skep, is die volgende:
StaatsbankrotskappeDie Europese ekonomieë is tans vasgevang in ’n staatskuldkrisis wat in die lig van die belastinginkomste moeilik hanteerbaar is, en dié regerings sal baie minder moet bestee.
Dit gaan die ontvouende resessie vererger en langer uitrek. Terselfdertyd is Europese banke weer eens in die moeilikheid as gevolg van die staatskuld op hul balansstate.
Net twee opsies bestaan om uit ’n oorweldigende skuldposisie te kom. Eerstens is ’n drastiese afskaling in uitgawes ’n opsie, wat die lande probeer, maar dit beteken ’n voortslepende resessie en onstabiliteit.
Tweedens kan regerings versuim om hul staatskuld te betaal, wat implikasies inhou vir die euro as geldeenheid, en die moontlikheid inhou dat die Europese Unie nie in sy huidige vorm voortbestaan nie.
Ons was lanklaas in ’n situasie waar bankrotskap vername wêreldlande in die gesig staar. Zimbabwe het gewys wat gebeur as ’n land bankrot speel en hoe swaar landsburgers dan kry.
Gelukkig is Suid Afrika nie daar nie, maar die skokgolwe gaan ons tref.
Swak politieke bestuur In Suid-Afrika is dit die munisipaliteite wat in duie stort. Die meeste is wanfunksioneel wat die doeltreffende verskaffing van basiese dienste betref, terwyl die ouditeur-generaal bekend gemaak het dat net 13 munisipaliteite skoon oudits gekry het.
Hy raam daar is sowat R11 miljard wat onregmatig uitgegee is of waarvoor daar nie bewyse is nie.
Onrus neem toe in baie dorpe weens die regerende party se onvermoë om die land doeltreffend te bestuur.
Hierby kan ’n mens voeg die een bestuurskandaal na die ander, soos die weggooi en nie-aflewering van skoolhandboeke, wanfunksionele hospitale en skole, en streke waar provinsiale paaie nie meer die vervoer van landbouprodukte doeltreffend kan hanteer nie.
In Europa word ten minste erken daar is ’n probleem en regerings word uitgestem.
As ’n mens kyk na die warboel van die ANC se Midrand-beleidskonferensie wonder jy onwillekeurig wat van die Nasionale Beplanningskommissie se beleidsaanbevelings geword het.
Resessie Die Internasionale Monetêre Fonds sowel as die Wêreldbank glo die ekonomiese groeivooruitsigte in die wêreld verswak vinnig.
Daar word openlik erken Europa glip in ’n resessie waarvan die gevolge Suid-Afrika negatief gaan raak.
Die jongste siening is dat Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers vanjaar nie meer naby 3% gaan wees nie, maar nader aan 2%.
Soos sake nou staan, gaan dit in 2013 verder verswak. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se leidende ekonomiese aanwyser bly verswak, wat op agteruitgang in saketoestande dui.
Die Amerikaanse en Europese huismarkte het reeds erg waarde verloor. Huispryse in Suid-Afrika groei traag en agterstallige verbandbetalings raak problematies, soos blyk uit die groot toenames in voorsiening vir slegte skuld deur banke.
Rentekoerse Sentrale banke in die Weste verlaag al geruime tyd hul rentekoerse tot nul of net bokant nul.
Dit kan vir nog ’n jaar of twee voortduur. Daar is geen sin daarin om geld by banke te spaar nie. Dit is alles pogings om die ekonomieë te laat groei en rentebetalings op staatskuld laag te hou.
Ontwikkelende lande soos China het onlangs rentekoerse verlaag om die wêreldekonomie te stut.
Dit is dus nie verbasend dat die SARB vroeër vandeesmaand rentekoerse met 0,5 persentasiepunt verlaag het nie, veral as ’n mens in ag neem dat huishoudings se besteebare inkomste daal weens die stygings in geadministreerde pryse.
Oontleders meen nog ’n rentekoersverlaging vanjaar is moontlik – al is dit reeds op die laagste vlak in sowat 40 jaar.
Hoewel die laer rentekoers ’n poging is om die ekonomie aan die gang te kry, ondergrawe politici vertroue helaas vinniger as wat die Reserwebank koerse kan verlaag.
Voedselpryse Die jongste bliksemstraal in die volmaakte storm is die erge droogte wat graan- en oliesaadoeste in die VSA erg knou.
Dit is die ergste droogte in sowat 56 jaar. Dit volg op swakker oeste in Suid-Amerika in die eerste deel van die jaar wat uitvoer-voorraad drasties verminder het.
Die hoop om voorraad te bou was op die nuwe oeste en boere het van die grootste oppervlaktes in sowat 40 jaar aangeplant.
Die laaste paar weke verdroog hul oeste – en die verwagte uitvoerbare voorraad daal skerp.
Baie lande is afhanklik van graan- en oliesade uit die VSA. China voer jaarliks naastenby 60 miljoen ton sojabone in.
Pryse in dollarsyfers het reeds met meer as 30% in ses weke gestyg. Die verwagting is dat pryse voor die einde van die jaar nuwe rekordhoogtes gaan aanteken.
Paniekaankope deur verwerkers en kopers het pryse verby vorige rekordvlakke opgejaag.
Intussen word die Suid-Afrikaanse oeste met elke oesskatting kleiner en so ook oordragvoorraad. Dié prysstygings moet nog deur die plaaslike voedselketting werk.
Cosatu het die eerste skote gevuur met ’n oproep om prysbeheer oor Suid-Afrikaanse landbouprodukte om dit van internasionale pryse te isoleer.
Maar die oplossing vir tekorte en swak beleid wat plaaslike produksie ontmoedig, is nie nóg swak besluite en verdere staatsinmenging nie.
Ons moet eerder praat oor hoe om self genoeg bekostigbare kos te produseer. Die droogtes en oesprobleme in die VSA gee nuwe dimensie aan die debat.
Prof. Johan Willemse is van die Universiteit van die Vrystaat en is ’n vorige wenner van Sake24 se Ekonoom van die Jaar-wedstryd. 
Scott Keach, eienaar van Keach Farm van sowat 1 000 hektaar in Henderson in die Amerikaanse staat Kentucky, bekyk ’n verdroogde sojaboonplant. Welkome reën het verlede week ’n bietjie lafenis gebring vir die bekommerde boere in dié hitte-geteisterde streek in die Amerikaanse Midde-Weste, maar hul hoop is getemper deur berigte oor misoeste, wegholbrande en ander gevolge van die ergste droogte in die VSA die afgelope 56 jaar. Die eerste deurdringende reën in weke in die noordelike deel van die Midde-Weste het die pryse van mielies en sojabone skerp laat daal, maar die pryse is steeds naby aan die hoogtepunte, terwyl nog buitengewoon warm weer vir Augustus voorspel word. Foto: Reuters