NÁ erge trauma, soos wanneer ’n kind gemolesteer is of konflik in sy of haar ouerhuis ervaar, raak sommige mense so emosioneel afgestomp dat hulle hulself sny net om iets te kan voel, sê Rochelle Vorster, ’n voorligtingsielkundige van Bloemfontein.
Die betrokkene kan ook oorweldig word deur negatiewe emosies en slegs daaraan uiting gee deur hom- of haarself te pynig.
Vorster sê depressie en angsversteurings kan lei tot selfmutilasie.
Boonop word endorfiene, wat ’n mens laat goed voel, in die brein vrygestel wanneer iemand hom- of haarself pynig.
“Selfmutilasie kan ’n afhanklikheid word.”
Dit kan ook ’n gevaarlike modegier wees.
Kinders wat aanhangers van die sogenaamd Emo-kultuur is, is dikwels depressief en sny hulself.
Volksblad