WINBURG. – AfriForum gaan die dorp se munisipaliteit hof toe vat omdat hy nie na die konsentrasiekampkerkhof omsien nie.
Die Masilonyana-munisipaliteit het gesê hy gaan die aansoek in die hof teenstaan.
Dit is die laaste uitweg ná etlike versoeke van die Erfenisstigting om die kerkhof in stand te hou en kan as toetssaak dien, sê Alana Bailey, uitvoerende adjunk-hoof van Afriforum.
Opdragte van die departement van toerisme is ook deur die munisipaliteit geïgnoreer, sê sy.
Dit gaan veral daaroor dat die omgewing rondom die begraafplaas erg besoedel word.
Die pad daarna is onbegaanbaar en besoekers en mense met ’n belang by die kerkhof kan dit amper nie bereik nie, sê Bailey.
“Nie net word die grafte van vroue- en kinderslagoffers van die Anglo-Boereoorlog, asook enkele Britte, deur bourommel, huisafval en selfs dooie diere bedek nie, maar word ’n gesondheidsgevaar ook vir woongebiede in die omgewing geskep.
“’n Onwettige gruisgrawery reg langs die terrein skep ’n ernstige erosiegevaar. Van die grafte toon reeds skade wat die Erfenisstigting probeer herstel, maar terwyl die grawery voortduur, gaan die probleem voort,”
Bailey, ’n kultuurhistorikus, sê die Erfenisstigting en lede van AfriForum op Winburg het die probleme onder die organisasie se aandag gebring.
Genl. Gert Opperman, die Erfenisstigting se hoof, sê hulle ondersteun AfriForum se aansoek oor die kerkhof en is betrokke daarby, hoewel hulle nie as applikant genoem word nie.
Die stigting werk ook saam met die Suid-Afrikaanse Hulpbronagentskap om die kerkhof so ver moontlik in stand te hou.
Opperman sê intussen het die stigting steeds nie moed opgegee om met die Vrystaatse departement van sport, kuns en kultuur in gesprek te tree oor die museum en monument op die dorp nie. Die hoof van die departement het bevestig hy vergader op 23 Augustus met die stigting om die toekoms daarvan te bespreek, sê Opperman.
Die stigting probeer etlike jare al om reaksie uit die departement te kry oor voorstelle om dié erfenisse se bestuur oor te neem.
Die stigting bied aan om die museum en monument te bestuur, mits die departement ’n bruidskat verskaf om dit na behore te doen.
“Oor die land heen word ál minder deur plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede gedoen om bestaande erfenisterreine te bewaar.
“Ons hoop die saak kan ’n toetssaak word wat ander owerhede kan herinner aan hul wetlike plig om ons land se erfenis te bewaar,” sê Bailey.
Die hofdatum sal later vasgestel word.
Volksblad