Share

Komitee het glo nie operasie hersien

KAAPSTAD. – Eksperimentele stamseloperasies op ’n verlamde man wat onlangs onder groot geheimhouding gedoen is, selfs met ’n wag voor die pasiënt se deur, is klaarblyklik nie deur ’n etiese komitee hersien nie.

Die operasies op Tommie Prins (32) van Robertson is op 10 en 24 Oktober in die Melomed-hospitaal in Bellville gedoen deur dr. Adriaan Liebenberg, ’n neurochirurg van die Paarl.

Prins is in 2005 verlam toe hy by Hartenbos teen ’n sandbank in die see vasgeduik het.

Die embrionale stamselle vir dié operasie is deur dr. Gert Jordaan “vervaardig, omdat niemand in die wêreld kan doen wat ek doen nie”. Jordaan het ’n doktorsgraad in veeartsenykunde.

Hy is in 2010 ingevolge die Wet op Dierebeskerming skuldig bevind ná ’n eksperiment op ’n swanger blou-aap in Bloemfontein waarin haar rugmurg vir “stamselnavorsing” afgesny is.

Liebenberg het Volksblad aangesê om nie na Jordaan se “stupid fout met die ape te verwys nie, maar op die deurbraak te fokus”.

’n Opgewonde Prins het gesê hy weet nie waarvandaan die stamselle kom nie, “maar hulle het dit uit my vel gemaak”. Hy was duidelik onbewus dat embrionale stamselle gebruik is.

Jordaan het gesê hulle het die eierselle wat in die proses gebruik is, by ’n kliniek in die suidelike voorstede gekry.

Nie hy of Liebenberg wou verklap waar die stamsellaboratorium is nie, “maar oor vier maande of so sal ons seker toergroepe soontoe neem,” het Liebenberg gesê.

Nie hulle of Melomed kon bewyse lewer dat ’n etiese komitee die operasie goedgekeur het nie. “Ek weet nie of die hospitaal pertinent ’n etiese komitee gehad het nie,” het Liebenberg gesê, en die hospitaal het gesê Liebenberg het die etiese komitee gereël.

Melomed het aanvanklik in ’n brief op 22 Augustus gevra Liebenberg moet seker maak “hulle kry die nodige blootstelling uit die operasie”, maar die hospitaal het hom gister ál meer gedistansieer en gesê die “spesialiste praktiseer onafhanklik”.

’n Brief van ’n oudminister van gesondheid, Barbara Hogan, gerig aan ene dr. A. Burger, is deur Liebenberg verskaf, asook ’n brief van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) – albei gedateer 2008.

Die RGBSA het gesê hy het ná die voorwaardelike goedkeuring weer aan Burger en Jordaan geskryf (2009) en spesifiek ander voorwaardes en vrae gestel, maar nooit weer van hulle gehoor nie.

Op ’n vraag waarom die briewe aan Burger gerig is, het Liebenberg gesê Burger is een van sy pasiënte.

Op ’n stelling dat die spesifieke prosedure nie bewese is nie en kankergroei kan veroorsaak en ’n vraag oor hoe dit presies gedoen is, het Liebenberg geantwoord: “Ons gaan nog vyf tot tien pasiënte doen voordat ons op ’n wetenskaplike forum gaan vertel wat ons gedoen het. Netnou probeer ’n sot in Indië dit na-aap.”

Reaksie
KAAPSTAD. – Daar is baie min plekke en mense in die wêreld wat dié navorsing kan doen, en boonop is daar geen bewyse dat dit help vir mense met rugmurgbeserings nie.

Dit was die reaksie van prof. Susan Kidson, vise-dekaan aan die Universiteit van Kaapstad se fakulteit geneeskunde en self voorste stamselkenner, toe sy hoor van die operasie wat op Tommie Prins gedoen is.

“Sover ek weet, is daar nog geen goedkeuring in Suid-Afrika vir embrionale stamselnavorsing verleen nie.”

Sy het bygevoeg indien sulke navorsing gedoen word, sal dit “heeltemal in die ope” wees. “Talle wetenskaplikes van verskeie universiteite sal betrokke wees en baie streng etiese standaarde sal gevolg word.

“Daar is min plekke in die wêreld wat dit kan doen en my bekommernis is daar was al bewyse dat gewasse kan ontwikkel met dié soort stamselle,” het Kidson gesê.
Volksblad kon nie die betrokkenheid van ’n etiese komitee kry by die operasie wat in die private hospitaal Melomed-Bellville deur dr. Adriaan Liebenberg gedoen is nie.

Op ’n vraag of daar enige kliniese navorsing voor die tyd gedoen is, het hy gesê: “Nee, iewers moet iemand die eerste een wees.”

Prof. Michael Pepper, bekende stamselnavorser en direkteur vir die Instituut vir Sellulêre en Molekulêre Geneeskunde aan die Universiteit van Pretoria, het gereageer nadat beweerde goedkeuringsbriewe aan hom voorgelê is: “Hier is baie probleme met die toestemming. Ons weet ook nie of die prosedure veilig is nie.

“Indien die regte kanale nie gevolg is nie en iets loop verkeerd, kan Suid-Afrika as wetenskaplike land dit nie bekostig nie. Dit kan die veld van stamselnavorsing hier baie skade berokken,” het hy gesê.

Dr. Gert Jordaan, wat dié private navorsing gedoen het, het gesê hulle het eierselle bekom en die kerne verwyder. “Ek kloon selle.”

Hy het daarna die kerne van Prins se velselle verwyder en in die eierselle geplaas.

Hy het gesê dit is nie nodig om eers die selle te laat differensieer nie, omdat hulle by kontak met die rugmurg sal weet watter selle om te vorm.

Altesame 35?mm van Prins se rugmurg is uitgesny en met die stamselle vervang.

Pepper het gesê die tegniek kan problematies wees indien die selle nie ophou groei nie. Boonop is dié deel van Prins se rugmurg nou vir altyd weg.

“Dit is heeltemal te vroeg om enige regenerasie te verwag,” het Pepper gesê.

Liebenberg het gesê: “Dit hang af in watter fase jy dit inplant. Maar dit is ons intellektuele eiendom.”

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
66% - 763 votes
No! It's time to move on ...
34% - 386 votes
Vote
Rand - Dollar
18.97
+0.3%
Rand - Pound
23.73
+0.3%
Rand - Euro
20.37
+0.2%
Rand - Aus dollar
12.41
-0.1%
Rand - Yen
0.12
+0.9%
Platinum
925.20
-0.0%
Palladium
984.00
-0.7%
Gold
2,351.61
+0.8%
Silver
27.70
+1.0%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,085
+1.0%
All Share
75,017
+0.9%
Resource 10
62,973
+1.4%
Industrial 25
103,625
+1.1%
Financial 15
15,857
+0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE