Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Op pad na ’n kennis-ekonomie

2012-08-16 23:16
’n Nuwe studie wys Suid-Afrika het in 2010 dubbel soveel navorsingsartikels as in 2000 gelewer. Die navorsers meen ons staan dalk op die randjie van ’n wetenskap-renaissance, berig Anim van Wyk

DIE finansieringsformule vir universiteite wat in 2004-’05 ingestel is, het Suid-Afrika se navorsingsuitsette ’n groot hupstoot gegee.

So het prof. Anastassios Pouris, direkteur van die Instituut vir Tegnologiese Innovasie aan die Universiteit van Pretoria, in ’n nuwe studie bevind. Dit is in die jongste uitgawe van die Suid-Afrikaanse Wetenskapsjoernaal gepubliseer.

Daarvolgens het Suid-Afrikaanse universiteite en ander instellings in 2010 gesamentlik 0,65% van die wêreld se gepubliseerde navorsingsartikels gelewer, nes die vorige hoogtepunt in 1987.

Waar die land ’n lang ruk sowat 3500 artikels per jaar gepubliseer het, het dit in 2010 opgeskiet tot 7468. Dié soort artikels is ’n verslag van oorspronklike navorsing wat in ’n geakkrediteerde wetenskapsjoernaal gepubliseer word nadat dit deur die navorser(s) se ampsgenote goedgekeur is.

In 2003 het Suid-Afrika se wêreldaandeel in navorsingsartikels ’n laagtepunt van 0,47% bereik. Sedertdien het die land Argentinië, Nieu-Seeland, die Oekraïne en Hongarye verbygesteek om die 33ste plek op die wêreld se publikasie-ranglys te behaal.

Wat het verander?

Faktore wat ’n rol gespeel het, is samewerking met oorsese universiteite en dat navorsers in die sosiale wetenskappe sedert 2001 deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gegradeer word. Maar Pouris meen dis die nuwe finansieringsmodel vir universiteite wat die grootste impak gehad het.

Daarvolgens kry universiteite geldelike steun op grond van hul navorsingsuitsette soos die getal navorsingsartikels en nagraadse studente.

Per navorsingsartikel word ’n universiteit omtrent R120000 betaal.

Hoewel die formule nie perfek is nie, skryf Pouris: “Mits die huidige aansporings voortgesit word en die plan van die minister van wetenskap en tegnologie verwesenlik word om besteding aan navorsing op te stoot, mag Suid-Afrika op die randjie van ’n wetenskaplike renaissance wees.”

Uitdaging

Prof. Lukas Venter, direkteur van navorsingsondersteuning aan die Noordwes-universiteit (NWU), sê die finansieringsformule het beslis ’n verskil gemaak.

“Maar die hele bestuursomgewing van die NWU het ook verander en ’n positiewe bydrae gelewer,” meen hy.

Die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) het in 2004 met die Universiteit van Noordwes en die Vista-universiteit se Sebokeng-kampus saamgesmelt om die NWU te vorm. Dit was een van 21 nuwe instellings wat uit 36 universiteite en technikons tot stand gekom het.

“Daar is al baie oor die samesmeltings gesê – sommige was positief en daar is sprake dat ander ontbind sal word – maar by die NWU het ons dit as ’n uitdaging gesien,” sê Venter.

“Ons Mafikeng-kampus het sy navorsingsuitsette drasties verhoog. Waar die kampus in 2005 vir alle praktiese doeleindes geen uitsette gelewer het nie, vergelyk dit op die oomblik goed met die CPUT (Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie).”

Dit neem tyd om ’n navorsingskultuur te vestig.

Luidens Pouris se artikel het die land se universiteite in die 1970’s meer op klasgee as op navorsing gefokus. In die 1980’s het die regering begin om universiteite ten minste gedeeltelik op grond van hul navorsingsartikels te finansier. Eers in die vorige dekade het dit die “kritieke drempel” bereik.

Verblydend, maar...

Dr. Annelie Lotriet, DA-woordvoerder oor hoër onderwys, sê die verbetering is verblydend, maar ’n mens moet vra of die huidige model nie op lang termyn negatief gaan inwerk op navorsingsuitsette nie.

“Tans word onderpresterende universiteite in der waarheid ‘vergoed’ en kry die presterende universiteite nie bykomende aansporing buiten die subsidie per publikasie nie,” sê sy.

Die departement gee ’n ontwikkelingstoekenning wanneer universiteite nie aan die vereiste navorsingsverslae voldoen nie. Die instelling kry dus steeds geld, of dit presteer of nie.

Pouris sê: “Die departement behoort ’n verskillende aanslag te volg omdat dit nie help om al die instellings oor dieselfde kam te skeer nie. Dis noodsaaklik om hulpbronne vir navorsing te skei van dié om die navorsingskultuur te vestig.”

Tog meen dr. Patricia Smit, hoof van navorsingsondersteuning aan die UP, die finansieringsformule slaag omdat dit mededinging tussen universiteite aanmoedig. Luidens die departement van hoër onderwys en opleiding se 2010-verslag het die UP in 2010 die meeste navorsingsartikels gelewer.

“Almal wil sien wie die meeste uitsette gelewer het wanneer die departement sy jaarlikse oorsig bekend maak,” sê Smit.

Sy is egter bekommerd dat kwantiteit dalk ten koste van kwaliteit beklemtoon word. Smit sal ook graag wil sien dat die departement van wetenskap en tegnologie en van hoër onderwys en opleiding uit een mond praat wat navorsing betref. Eersgenoemde steun byvoorbeeld ook navorsing by universiteite deur sy stigting, die NNS.

Die regering het ’n mikpunt gestel om teen 2014 1,5% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) aan navorsing te bestee.

Die jongste syfers is 0,92% en in ontwikkelde lande kan dit tot 3% van ’n tamaai BBP wees.

Dr. Albert van Jaarsveld, NNS-hoof, sê die stigting maak vordering, maar dit gebeur “met rukke en stote”.

Die afgelope jaar is 60 bykomende navorsingsleerstoele by universiteite gevestig en die NNS gaan ook ’n bykomende sentrum van uitnemendheid (in die paleowetenskappe) tot stand bring. Dan is daar beurse vir jong navorsers en geldtoekennings vir gevestigde navorsers.

Die NNS belê verder in infrastruktuur soos met die bou van die Square Kilometre Array (SKA)-teleskoop en die nuwe Agulhas II-skip, wat pas van haar nooiensvaart in die suidelike oseane teruggekeer het.

“Ons moet aanvaar die wêreldekonomie beweeg in die rigting van ’n kennisekonomie,” sê Van Jaarsveld. “En dit beteken om globaal te kan kompeteer moet Suid-Afrika gedrewe wees om hoëvlak-mannekrag en intellektuele eiendom te lewer sodat ons met ander nasies om die tafel kan sit – en nie wonder wat van die natuurlike-hulpbron- of vervaardigingsekonomie geword het nie.”

Volksblad
«Terug