Die debat oor die uitbeelding van pres. Jacob Zuma met ’n oop gulp en met sy geslagsorgaan wat uithang in die skildery The Spear deur Brett Murray, sluit argumente in oor die president se seksualiteit en ook oor sy poligamie en string kinders. Selloane Khalane, senior verslaggewer van Volksblad, het in ’n huis met poligame huwelike grootgeword. Sy vertel:
MY vreedsame bestaan in ’n piepklein viervertrekhuis het vir altyd verander toe poligamie deel van ons huishouding geword het.
My onskuld is gesteel en my siening oor verhoudings sou vir altyd anders wees weens dié gebruik. Ek staan steeds verstom dat poligamie steeds beoefen word in ’n samelewing wat vervuil is van vigs.
My grootwordjare sou geken word aan ’n wrede, maar soms tog humoristiese werklikheid, alles net om my pa se begeertes te vervul en sodat hy sy macho-neigings kon uitleef.
Die feit van die saak is dat poligamie beslis nie sonder inspanning bestuur word soos wat pres. Jacob Zuma dit laat lyk nie. Op 70 jaar het hy dit reggekry om vier vroue in toom te hou.
Anders as Zuma, was my pa ’n skerpsinnige sakeman wat ’n potjie gholf verruil het vir drie vroue en ’n string kinders op sleeptou.
Gelukkig vir my pa het niemand ’n portret van hom in ’n kunsgalery opgehang waar sy geslagsdeel geskilder is sodat die wêreld dit kan sien nie.
Ja, ek is ’n produk van poligamie – ’n lewenswyse wat aangevuur word deur kulturele indoktrinasie en voorgehou word as ’n praktiese praktyk met tevrede “deelnemers”. In der waarheid is dit ’n verskriklike praktyk.
Teen die tyd dat ek 13 jaar oud was, kon ek die fasade van ’n huishouding met drie generaals, elk met haar eie sweep, goed hanteer. Moet egter nie vergeet dat die drie generaals nog verder moes “ja” en “amen” sê op die hoof van die huis se bevele nie.
My pa se verskoning om ’n poligamis te wees, was die “ekstra hande” wat kon help bou aan sy ontluikende sakeryk.
Ondanks sy redes het ek gesmag na ’n stukkie normaliteit sodat ek die ongemaklike en vernederende vrae oor ons huishouding kon ontduik.
“Jy is seker Selloane se suster,” sou onderwysers vra, terwyl dit in werkliheid een van my pa se jonger vroue was.
Tradisioneel word die eerste vrou se toestemming gevra voordat daar met vrou nommer twee getrou word. Uit ondervinding weet ek dat dit selde gebeur.
Ek onthou die wedywering tussen die vroue om my pa se guns te wen soos gister. En dan praat ek nie eens van my ma se trane elke keer wat nog ’n vrou op haar afgedwing is nie.
Ja, sy het die keuse gehad om te gaan, maar sy het gekies om te bly. ’n Ontstellende besluit, al was dit om die kinders se onthalwe.
Die rusies wat ontstaan het wanneer my pa meer tyd saam met een van die ander vroue bestee het, was ’n bewys dat geen man die vermoë het om meer as een vrou lief te hê nie.
Onderlinge wedywering en mededinging was aan die orde van die dag. Omdat ons so baie broers en susters was, moes ons leer om die man waarvoor ons almal baie lief was, te deel. Om sy besluite te bevraagteken, was uit.
Dit het ook beteken dat presente en speelgoed ’n plaasvervanger sou word vir my pa wat altyd besig was.
Nodeloos om te sê, het my lewe baie moeiliker geraak toe my vriende uitvind van dié reëling by die huis. My pa se lewenswyse was gereeld die onderwerp van bespreking en ek is gereeld daaroor geterg. Ek twyfel nie in my pa se liefde vir my nie, maar ek sal altyd sy keuse (wat ek glo tot sy eie nadeel was) bevraagteken.
My gevolgtrekking oor poligamie – ek moet nog ’n arm man ontmoet wat dié praktyk beoefen.
Volksblad