Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Ras lê toe nie veldiep

2012-08-17 22:44
Die waarde wat die mensdom aan velkleur heg, is ’n sosiale skepping, oorgedra deur kultuur. Rasseklassifikasie het ’n paar eeue gelede ontstaan en dra niks voordelig by tot die samelewing nie, het die wêreldbekende prof. Nina Jablonski aan Elsabé Brits vertel.

VELKLEUR en álles daaroor, of eerder velpigmentasie, soos prof. Nina Jablonski daarna verwys, ken dié biologiese antropoloog en paleobioloog tot die fynste besonderhede.

Sonder om een keer te huiwer, kan sy die moeilikste vraag oor ras met grasie beantwoord. Sy herinner ’n mens aan die nuuskierige, ouwêreldse natuurkenners wat ’n breë kennis oor alles op aarde, asook geskiedenis, het.

Jablonski is meer as net ’n wetenskaplike aan die Universiteit van Pennsilvanië – die misverstande weens onkunde oor velkleur, en veral die oorsprong daarvan, is vir haar ’n hartsaak.

Die mens se velkleur het vinnig verander weens omgewingsdruk sodat hy kon oorleef – daar is dus biologiese redes vir verskillende pigmentasies.

In haar jongste boek, The Biological and Social Meaning of Skin Color, verduidelik sy hoekom die mens hoë sosiale waarde aan velkleur begin heg het.

“Die komplekse beskawings van ouds, in Mesopotamië, Egipte en ook Rome, het nie mense van verskillende kleur anders behandel nie. Die slawe se status het niks met kleur te doen gehad nie, maar met die feit dat hulle in oorloë gebuit is. Daar is geen aanduiding van rassediskriminasie nie, ook nie in die manier hoe mense in kuns uitgebeeld is nie,” vertel sy.

Klein veranderings het tussen die 10de en12de eeu ingesluip wat uiteindelik groot sosiale gevolge gehad het.

Die manier hoe arbeid verskaf is in Europa, het druk op die slawehandel suid van die Sahara geplaas en mense het handelsartikels geword.

“Tussen die 12de eeu en die 19de eeu het nog ’n verskuiwing gekom: ’n Prys is gekoppel aan die werk wat ’n slaaf kon verrig. Al is daar erken slawerny is sleg, is daar verskeie retoriese stellings gemaak binne Islam-doktrine en die interpretasie van Christelike Bybelse bronne wat die slawerny van sekere mense aanvaarbaar gemaak het.

Negatiewe kenmerke is aan sommige mense toegedig en hulle is minderwaardig geag.”

Soos meer mense in die 12de en 13de eeu in Afrika gereis het, het hulle meestal ongunstig oor swart mense geskryf. Hulle het na die “alarming blackness” verwys en dit met “die bose, donker en nag” vergelyk in teenstelling met die “goedheid, lig en dag” van wit-wees.

Taksonomiese klassifikasie

Nog ’n keerpunt was die taksonomiese klassifikasie van die mens in vier groepe (inheemse Amerikaners, Asiate, Afrikane of swart mense en Europeërs) deur Carl Linnaeus in 1758. “Dit het ons op ’n ramp laat afstuur.” Veral omdat hy gedrag en inbors ook aan die rasse toegeken het.

Die filosoof Immanuel Kant het in 1760 die mens in ’n hiërargie geplaas “en dit duidelik gestel mense met donker velle het nie net ’n lae intellektuele vermoë nie, maar ook ’n swak morele karakter”.

Wat baie belangrik is, is dat Kant se idees nie op wetenskaplike waarneming geskoei was nie, dit was nie eens vaagweg objektief nie, dit was bloot sy mening.

“Die samelewing het sy werk hoog geag en dit het ’n langdurige impak gehad, meer so as dié wat ’n ander mening gehad het,” sê Jablonski.

Slawehandel is afgeskaf, maar om ’n “minderwaardige donker vel te hê” het ’n meem geword – die oordrag van kultuur.

’n Meem is gedrag of denke wat kultureel oorgedra word van een generasie na die ander, byna soos ’n geen. Byvoorbeeld, een groep word vertel hulle is swakker in ’n generasie, terwyl dit nie waar is nie, hulle glo dit en vertel dit aan die volgende generasie. Dit het geen biologiese grondslag nie, maar dié meem bly kultureel voortleef.

Blywende ongelykheid

“Sodra ’n hiërargie, in dié geval kleur, eers bestaan en vooraanstaande mense steun dit, is dit bitter moeilik om dit los te wikkel. Die meem vermeerder en uiteindelik word dit die grondslag van sosiale onmin en blywende ongelykheid.

“Die afgelope 50 jaar is baie positiewe werk gedoen om mense met respek te behandel – ook in Suid-Afrika.

“Maar die kleur-meem sit nog vas, en geen grondwet of ander wette kan dit verwyder nie.

“’n Etiket wat aan iemand gegee word, is meer as bloot ’n naam. Mense assosieer dit met sekere rolle en gedrag. Dit beïnvloed hoe mense oor hul eie potensiaal en toekoms dink.

“Dit word hul noodlot – maak nie saak watter kleur hulle is nie.

“Ons weet dit uit studies in sosiale sielkunde oor hoe etikette mense se gedrag verander. Om ontslae te raak daarvan vra bewustelike, herhaalde inspanning in elke huishouding.”

Sy het baie jare lank daaroor gedink, vertel Jablonski, terwyl die tee voor haar onaangeraak en yskoud staan.

Sy doen al sedert die vroeë 1980’s navorsing oor alle aspekte van velkleur – met gedrag het dit net mooi niks te doen nie. Haar werk en jongste boek is ’n oproep om ’n verskil te maak, om mense te laat dínk oor waar die gemeenskap se siening oor ras en kleur vandaan kom en hoe om dit reg te stel.

“As antropoloog wat die evolusie van velkleur bestudeer, is ek in ’n goeie posisie om te sê: Kleurklassifikasie het ons ellendig in die steek gelaat.

“Geheel en al.”

Volksblad
«Terug