Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Werkloosheid, opvoeding kwel jonges

2012-06-06 05:30

JOHANNESBURG. – ’n Nuwe opname toon jong Suid-Afrikaners is veral bekommerd oor werkloosheid en opvoeding in die land.

Omtrent 6000 jong mense tussen 15 en 34 het aan die opname deur die maatskappy Pondering Panda deelgeneem.

Die opname is gedoen om jong mense se reaksie aan ontwikkelingsprobleme wat vroeër vanjaar deur die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) geïdentifiseer is, te meet.

Die NBK het nege groot probleme geïdentifiseer wat Suid-Afrika in die komende jare gaan raak.

Volgens Shirley Wakefield, woordvoerder vir Pondering Panda, is 5814 respondente gepeil en was die resultate verteenwoordigend van die nasionale bevolking in die betrokke ouderdomsgroepe. Hulle is gevra watter drie uit die nege groot probleme die belangrikste vir hulle was.

Luidens die opname is werkloosheid en opvoeding heelwat belangriker as enige van die ander probleme wat die NBK uitgelig het, ongeag die respondente se ouderdom of geslag.

Omtrent twee derdes van alle respondente het dié twee probleme geïdentifiseer as die grootste kwessies wat die land raak.

Die opname het ook gewys opvoeding was effens meer belangrik vir jonger respondente, terwyl werkloosheid belangriker word hoe ouer ’n respondent is.

Die derde belangrikste probleem in Suid-Afrika is volgens jong mense gesondheid en mediese sorg, wat deur 36% van respondente as belangrik beskou word.

Vervoer is die minste belangrike kwessie vir jong mense, met slegs 8% van respondente wat dit as ’n groot probleem geïdentifiseer het.

Die ander probleme soos geïdentifiseer deur die NBK, is korrupsie, swak infrastraktuur, die swak bestuur van natuurlike hulpbronne, ekonomiese ongelykheid en mense wat nie uit armoede kan kom nie. – Jody Nel

Volksblad
«Terug