Volksblad SITES/SERVICES >

Gelowiges sal hulself ook herken in Venter se sielsreis

By: Jan Lubbe 2010-08-02 11:50
GOD Ek is ook hier! deur Hendrik Venter. Griffel Media. Sagteband. R180.

GOD Ek is ook hier! is ’n reisverhaal na die binnewêreld van menswees. Die verhaal van ’n siel wat iewers ongeveer in die middel van sy lyflike lewe – toe alles wat saak maak uitmekaar val en toe mense wat naby was, vertrek – self soekend op reis gegaan het.

Na rigting, in die heilige reisgidse van ouds: van Plato en Paulus tot die Koran en Kategismus. En na raad gaan vra het by ’n pastorale sielkundige en ’n dominee, ’n Hindoe-vriendin en ’n Boeddhis wat regtig vrede het en by sy pa.

Eindelik is dit ’n reis wat elke mens op jou eie maak, het hy gevind, maar gaandeweg ontdek dat jy nogtans nie alleen is nie. Want, “een is twee en twee is drie” – Gód is hier!

Wie is dié siel? Hendrik Venter, ouderling in die NG Kerk en reikipraktisyn. Dis ’n mondvol en ’n goeie rede om sy boek GOD Ek is ook hier! te lees. Nóg ’n rede: Venter is een van die skrywersname in Die Omstrede God (2004) – die boek waarna Wilhelm Jordaan as die “demokratisering van God in die Afrikaanse wêreld” verwys het.

Verder is Venter ’n stigter van Griffel Media, uitgewer van belangwekkende publikasies soos Jesus van Nasaret: Enkele perspektiewe (Sakkie Spangenberg), Diaspora van die nuwe Christene (Flip Schutte) en Saam op soek na God oor ’n eietydse spiritualiteit (Abel Pienaar).

In hierdie geselskap sou ’n mens kon sê dat GOD Ek is ook hier! met sy 486 bladsye ’n swaargewig is! Griffel gee voorkeur aan titels en temas wat tekenend is van ’n “nuwe Christendom (wat) besig is om kop uit te steek” (bl. 281), sodat die leser nie verbaas is om te verneem dat die outeur homself ook “postmodern” noem nie (bl. 23).

Wêreldvreemd? Nee, Hendrik Venter het gewoon op Vryburg grootgeword en agtermiddae dáár al gewonder of hy eendag alles sal verstaan (bl. 183). Ongelowig? Ook nie – hy is ’n bekeerde siel: “Ek was besig om die stukke van ’n redelik verwoeste lewe bietjie vir bietjie op te tel en op pad te kry...

Een Saterdagmiddag word daar aan die deur van my hart geklop, en ek hoor God se stem. En toe ek die deur oopmaak, kyk ek in Christus se gesig vas. En op ’n stadium moes ek my oë toegemaak het, want toe ek dit weer oopmaak, het ek met nuwe oë na die wêreld gekyk” (bl. 149).

Teen hierdie agtergrond onderneem die outeur en sy siel hul reis. Uit dure ervaring maan hy: “Take your soul on a regular drive or else it will take you for a ride” (bl. 389) – nóg ’n rede waarom Christene, predikante en soekers GOD Ek is ook hier! behoort te lees.

Die verhaal bestaan uit twee dele: Die eerste is op ’n manier outobiografies sonder om veel besonderhede te deel; dit vertel eerder van sy nadenke oor vrae waarmee Christene worstel. Venter noem dit die “mure om my eie siel” wat op sy reis na binne afgebreek moes word: Waar was Jesus toe ek Hom nodig gehad het? Het ek ’n Verlosser nodig? Is daar net een God?

Is ek uitverkies? Is dit tyd vir ’n nuwe Christendom? Wie is die kerk? Sê die kerk gays se sonde is groter as nie-gays s’n? Waarom bly ons liefde en seks aan mekaar gelykstel? – “meer vrae as waarvoor die kerk antwoorde het” (bl. 265). Om die waarheid te sê, soveel vrae dat jy later saam met hom wil uitroep: “Magtag, maar die arme man het issues”!

Venter is pynlik reguit in sy vraagstelling, maar nie venynig nie; meermale ontlok sy gesellige skryftrant en humor ’n glimlag van herkenning. Hy oorweeg ’n hele aantal “formele”, “tradisionele” antwoorde; ook die teenstellinge tussen Jakob en Esau, Augustinus en Pelagius, Calvyn en Arminius. Oor oppervlakkige (“charismatiese”) antwoorde is hy wél krities en van ’n “New Age-selfhelp-welvaartsteologie” of “SMS-gebede” wil hy niks weet (bl. 299).

Belangrik is sy aanduiding van die brille waarmee ons Bybel lees (bl. 276). Langs die pad word die leser verras: Venter gee voorkeur aan die Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1933) en vind ná ’n lang, bevrydende reis, vrede in ’n bekende oord: “ ’n Christelike kerk...wat die boodskap van Christus verstaan dat die mens in versoening met God staan...wat haar lidmate leer om bloot met dié stille wete in hierdie versoening te leef. En snaaks, dit is hoe ek die gereformeerde tradisie verstaan” (bl. 299)!

Maar met ’n voorbehoud: “Miskien is dit ’n fout in hierdie tradisie se manier om hul boodskap só naby aan die rede oor te dra dat die siel verlore gaan” (bl. 58). Inderdaad.

Wanneer die mure om sy siel dan afgebreek is, kom Venter in die tweede (korter!) deel van GOD Ek is ook hier! by ’n spiritualiteitsmodel aan die hand waarvan ’n mens in harmonie met jouself, jou omgewing, ander mense en met God kan bestaan: sy Emosionele en Spirituele Spiraal-model (ESS). Hier benut hy van Hippokrates tot Jung se persoonlikheidstipes; onderskei breedweg tussen die “kragdadiges”, die “joviales”, die “beskeidenes” en die “ondersoekers” (plus nog vier subtipes); en pas dit toe op die verhouding tussen man en vrou, verskillende groeperinge in ’n kerk, die verskillende godsdienste en selfs die maatskaplik-politieke leierskap in Suid-Afrika. Die kleur-uitvoukaart agter in is waardevol in dié verband.

Nou, vir ’n vriendelike teenvraag of twee: Was dit nodig om só “langdradig” (sy woord – bl. 291) met hierdie belangrike vrae om te gaan? En waarom kies die outeur só ’n vreemde en onpraktiese verwysingsmetode wat meermale die gemaklike gang van sy teks versteur?

Verder sou dit die leser se saamreis vergemaklik as die opeenvolging en oorgange tussen hoofstukke beter verduidelik is. Sy verwarring van die Konsilies van Konstanze (15de eeu) en Nicea (4de eeu), wek ongelukkig ook die indruk dat Venter in sy haas om Konstantyn te verkwalik vir wat in die kerkgeskiedenis foutgegaan het, in dieselfde slaggat as (ander) Nuwe Hervormers trap. “So lyk dit my in elk geval”, om hom vir oulaas aan te haal. Die reis gaan voort. 

More Stories in Boeke

«Back