Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Kenner van ons nie’s

Deur: THERESA BIBERAUER 2010-09-11 06:00
Hoekom is een “nie” nie genoeg vir ons nie? Nederlands kom heel skaflik reg sonder daardie ekstra “nie” waarvoor Afrikaans so ’n koddige voorliefde het. Waar het ons dan daaraan gekom?

Van Frans, wou die 19de-eeuse taalstryder S.J. du Toit ons laat glo: Nes die Franse sowel ne as pas nodig het om ’n enkele ontkenning te vorm, benodig Afrikaans twee “nie’s”.

Nee, het ander taalkenners hier en oorsee betoog: Dit kom van Afrikaans se taalmoeder, Nederlands, wat immers self vroeër “dubbele ontkenning” geken het (en in sommige dialekte steeds ken – Afrikaans se nie’s is vir baie Vlaminge glad nie so aardig nie).

Dit sou uiteindelik ’n Nederlander verg om te toon dat die regte antwoord veel komplekser is.

Den Besten, wat in Julie in die ouderdom van 61 oorlede is ná ’n lang stryd met parkinsonsiekte, het in sy akademiese loopbaan nie alleen getoon die storie van Afrikaans se ontkenningspatroon is heelwat interessanter nie, maar het ook die implikasie daarvan vir die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans uitgewys.
JJJ
Johannes Bernardus den Besten het van kleins af in tale belanggestel. Op vakansie in vreemde lande wou hy onmiddellik die taal daar baasraak – al was dit nou Tsjeggies, met sy onmoontlike konsonantopeenhopings (tot die verdriet van sy jonger sussies het dit een slag ’n ure lange geoefen agter in die gesinsmotor behels).

Op universiteit was dit egter Afrikaans wat sy oog getref het. Dié belangstelling het hom die volgende vier dekades bygebly.

Den Besten was in vele opsigte ’n ongewone Nederlander. Daardie bemoeienis met Afrikaans is gebore in die laat 1960’s en 1970’s, toe die deursnee Nederlandse student se belangstelling in Suid-Afrika beperk was tot anti-apartheidsoptogte en die boikot van Suid-Afrikaanse vrugte.

Soos baie buitelandse akademici wou Den Besten Suid-Afrika nie in die apartheidsera besoek nie. Tog het hy in die 1970’s en 1980’s soveel kennis ingewin oor Afrikaans en sy ontstaansgeskiedenis dat hy teen die vroeë 1990’s internasionaal erkenning geniet het as een van dié kenners op die gebied van die Afrikaanse taalgeskiedenis.

In 1990 het hy die geleentheid aangegryp om eindelik die geboorteland te kom besoek van die taal wat hy later as sy “gunsteling” beskryf het.

Daardie eerste besoek, onder meer vir die Suid-Afrikaanse Linguistekongres in Stellenbosch, was toe ook nie die laaste nie.

In die laaste 20 jaar van sy lewe was Den Besten, ondanks sy stryd met parkinsonsiekte, ’n gereelde en entoesiastiese besoeker aan Suid-Afrika.

Toe die Universiteit Stellenbosch hom in 2007 as buitengewone professor in algemene taalwetenskap aangestel het, was dit vir sy kollegas klaarblyklik die “perfekte verskoning” wat hy nou gehad het om Suid-Afrika jaarliks te besoek. Dit het vir Den Besten net soveel beteken soos die eer van die aanstelling.

Hierdie liefde vir Afrikaans en Suid-Afrika het by sy verassingsdiens op 6 Augustus in Amsterdam neerslag gevind in die musiek van Gert Vlok Nel.

Maar wat kon hierdie Nederlander Suid-Afrikaners oor hul eie taal leer?

Dat Afrikaans nie net Europese taalinvloede weerspieël nie, is algemeen aanvaar.

Die Paarlse Taalmonument (in 1975 ingewy) toon dit was nie net Nederlands en ander Europese tale wat Afrikaans gevorm het nie, maar dat Afrikatale, soos dié van die Khoi en “uitheemse” tale soos Maleis, ook ’n rol gespeel het.

Die monument weerspieël egter ’n ondergeskikte rol vir dié tale, wat ek ook uit my skoolkurrikulum onthou: dat hulle ’n klompie woorde aan Afrikaans geskenk het, soos Afrikaans se kenmerkende “baie” (wat Nederlands nie ken nie).

Het ’n mens egter vir Den Besten oor die Taalmonument uitgevra, het daar telkens ’n ondeunde kyk in sy oë gekom. “Vergeet maar of hy nou mooi is of nie; hy is verkeerd!” het hy op een van ons vroeë ontmoetings geskerts.

“Daardie lae muur en klein hobbeltjie-hopies!” het hy gesê en sy kop geskud oor die elemente van die monument wat onderskeidelik die bydraes van Maleis en die Afrikatale uitbeeld.

Den Besten se oordeel was die produk van wetenskap, eerder as politiek. Hy het die beskikbare tekste van die 17de eeu tot vandag sorgsaam bestudeer – Kaap-Hollands (die eiesoortige Nederlands van die Kaapse koloniste), die Kaapse slawetaal, moderne en eertydse Maleis en Khoekhoe, en die Kreools-Portugees van die destydse matrose.

Sy studie het getoon nie-Europese invloede het heelwat meer tot die struktuur van moderne Afrikaans bygedra as wat Jan van Wijk se Langenhoven- en Van Wyk Louw-geïnspireerde monument suggereer.

Op die oog af toon Afrikaans heelwat “on-Nederlandse” kenmerke. Ons dubbele “nie” is een hiervan. So ook ons voorliefde vir sogenaamde reduplikasies (gou-gou, hanna-hanna, tjoef-tjaf) en -tjie-“verkleinwoorde” wat nie eintlik verkleinings is nie (bietjie, kaartjie, plakkie).

Daar is ook ons “hierdie” en “daardie”, die manier waarop ons mensverwante groepe aandui (Jan-hulle, my pa-hulle) en beleefd probeer wees as ons meerderes aanspreek (“Oom, kan Oom dalk ...”), en die feit dat ons werkwoorde feitlik nie verbuig nie (Ek lees, hy lees, ons lees, teenoor Nederlands: Ik lees, hij leest, wij lezen).

Van dié eienskappe kom prominent voor in Kreooltale, oftewel vereenvoudigde tale wat ontstaan wanneer sprekers uit uiteenlopende taalagtergronde deur ’n pidgin-taalvorm met mekaar moet kommunikeer en ’n nuwe generasie hierdie aanvanklike lingua franca as eerste taal aanleer. Afrikaans is dus al dikwels as Kreooltaal bestempel.

Word Afrikaans egter met werklike Kreooltale vergelyk (iets wat binnekort geredelik moontlik sal wees, danksy navorsing by die Max Planck-instituut in Leipzig, waarby Den Besten direk betrokke was), ontluik dit telkens as die “Kreool” met onverwagse eienskappe.

So is ons woordordereëls ingewikkelder as dié van enige Kreool. Daar is ook nie ’n enkele Kreool wat Afrikaans se dubbele ontkenningstelsel deel nie.

Wat Den Besten se jare lange ondersoek getoon het, is dat hierdie “on-Nederlandse” eienskappe in baie gevalle nie aan ’n enkele bron toegeskryf kan word nie.

Waar Afrikaans van moderne (standaard-)Nederlands afwyk, is dit dikwels omdat meerdere taalstelsels wat tydens Afrikaans se wordingsfase in omloop was, die betrokke eienskap gedeel het.

Só word daardie veelvoud -tjie-vorme dikwels toegeskryf aan “babataal”, van die soort wat ’n mens in pidginstelsels soos slawetaal verwag.

Buiten gesproke Nederlands se gebruik van -tjie bevat sowel Maleis as Khoekhoe ook heelwat woorde wat in -kie eindig.

Benewens die konvensionele verklaring van verkleiningsvorme met hul oorsprong in vereenvoudiging vir vreemdetaalsprekers (slawetaal) was daar dus drie verdere invloede wat ’n rol gespeel het by die vermeerdering van “verkleinvorme” in Afrikaans.

Eweneens sou Maleis, wat opmerklik baie van reduplikasie gebruik maak, “baba-” en slawetaal-reduplikasievorme versterk het, met die gevolg dat dié eienskap in Afrikaans ingeburger is.


En daardie ekstra “nie’s”? Weer eens is daar nie net ’n enkele oorsprong nie.

Khoekhoe se ontkenningswoord is altyd aan die einde van die sin, en daar is aanduidings dat Nederlandse koloniste ontkenningsinne versterk het deur ’n “nee” by te voeg (“Jy koop nie lekkers, nee!”). Albei verskynsels kon by tweedetaalleerders die indruk gewek het dat twee “nie’s” nodig is.

In plaas van die dominante suile van die Taalmonument wat Europese invloede simboliseer en wat die lae muur en bultjies van die Maleisiese en Afrika-invloede oorskadu, moes die monument volgens Den Besten dus eerder ’n smeltkroes verbeeld het.

Die tale wat Afrikaans sy kenmerkende karakter gegee het – dié van die heersers sowel as dié van hul knegte – het meer grondig op mekaar ingewerk as wat tradisioneel geglo is.

Dat ons die wetenskaplike juistheid kan insien van die stelling dat Afrikaans ’n Afrikataal is, is deels aan Den Besten se lewenswerk te danke.

Met sy dood was hy besig met ’n boek oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans, en een van sy toekomsplanne was om sy kennis van die 19de-eeuse Arabies-Afrikaanse geskrifte aan te vul.

Die studie van Afrikaans sal armer wees sonder sy warmte as mens en hierdie vermoë om die familiêre nuut te sien.

- Dr. Theresa Biberauer is ’n taalwetenskaplike verbonde aan die universiteite van Cambridge en Stellenbosch.

«Terug