Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Tegnologie in motors verstom

Deur: Jannie Hennop 2012-07-18 00:00

KYK, as jy tegnologies agtergeblewe is, is dit nag vir jou as jy ’n nuwegeslag-weeldewa koop.

Eintlik is jou moeilikheid reeds bespreek met baie goedkoper rygoed wat self al “standaard” oor ’n klompie funksies beskik wat met jou kop kan smokkel.

“Sit jou musiek op ’n USB en prop dit net in die kar se radio en luister dan daarna.” Huh?

My geliefde eggenoot veg soos ’n terminaal sieke, haar stryd is teen tegnologie. Of sy dit gaan maak, weet ek nie.

Die kinders behandel haar met ’n “maak sus en maak so” en siedaar! Ek is egter nie seker oor die langtermynsukses van dié behandeling nie.

Of ons dit wil weet of nie, maar geletterdheid in die breër sin behels deesdae ook die vermoë om oor ’n bepaalde rekenaarvaardigheid te beskik. Op meer as een vlak verkieslik.

Dit is nie net meer genoeg om die programmetjie op jou “desktop” by die werk baas te raak nie. Jou base en baie ander wil ook elektronies met jou kommunikeer soos byvoorbeeld met e-pos. Sodra jy dit onder jou knieknoppe het, is daar natuurlik ons geliefde kommunikasiemiddel die selfoon. Die selfoon het binne ’n ommesientjie ontaard in ’n handgrootte rekenaar wat tot foto’s en video’s kan neem. O ja, sommige kan glo nog bel ook.

Moenie dink dat karre die tegnologiese era ontsnap het nie. In vele opsigte is die karwêreld dalk aan die voorpunt van die tegnologiese vernuwing vir die mensdom.

Dit gaan nie net oor die talle sensors en beheerstelsels in die voertuig wat met mekaar gesels om dinge te laat vlot nie.

Dink maar aan die magdom elektronika in elektroniese stabiliteitsprogramme (ESP), stelsels wat ewenaargrendels se werking naboots, hoofligte wat self domp vir aankomende verkeer, geheuefunksie vir jou sitplek, nagsigtoerusting wat lewende wesens identifiseer voordat jy dit met die oog kan raaksien, volgafstandbeheer, lugsakke, voertuie wat hulself parkeer, radar en laser wat ingespan word. Daar is letterlik nog tientalle ander.

Die moderne kar, veral as dit van die groter en duurder modelle is, het inderdaad ’n klompie goeters wat jou kop kan laat draai en daar’s nie eens alkohol by betrokke nie.

Dit gaan egter deesdae in voertuie al hoe meer oor kar-tot-kantoor-kommunikasie. Kortweg, jy word al hoe meer in staat gestel om jou voertuig – selfs as jy bestuur – soos jou kantoor te benut deur ’n reeks nuwe tegnologieë in te span.

Gewone kommunikasie is danksy Bluetooth al ’n gegewe in baie rygoed. Dit is natuurlik baie veiliger om ’n oproep daardeur te maak of te ontvang as van jou selfoon af terwyl jy bestuur.

Maar dinge gaan verder as dit en veral die Duitse weeldewa-vervaardigers span al hoe meer “kantoortegnologie” in voertuie in.

My oog het pas op ’n nuusverklaring van BMW geval oor ’n klompie nuwighede waarin die kar nie kantoor toe ry nie, maar die kantoor na die kar toe bring as ek dit so kan stel.

Jy kan nou, deur stemaktivering, kort teksboodskappe (SMS’e) stuur, e-posse met stemnotas en natuurlik kan jy sommer twiet ook as jy ’n twieter is.

En dit alles terwyl jou twee hande veilig op die stuurwiel is.

Wat satellietnavigasie betref, vernuwe die stelsels ook omtrent elke maand. Ja, veral in Europa is regstreekse verkeerbywerking, stelsels wat self ’n ander roete uitwerk en jou daarop lei sonder dat jy dit weet en driedimensionele beeld basies al ou nuus.

Jy kan selfs met stemaktivering vir die satnav opdragte gee, en by sommige Audi’s nog sommer ook met jou vinger op ’n paneeltjie griffel wat dit sal ontsyfer en die opdrag laat uitvoer.

Daar is ook die gebruik van foto’s en animasie van die regte geboue en omgewing om jou soek-ervaring soos ’n déjà vu-oomblik te laat voel.

Driedimensionele voorstellings en blitsige rekenaarverwerkers om die soektog so vinnig soos jou vuurwa te maak, is die nuutste op dié terrein. Dit geskied boonop met ’n verdeelskerm, wat ’n groter gebied dek, asook die meer gedetailleerde gebied waarin jy beweeg.

Die nuwe stelsel sal selfs vir jou vertel wanneer jy van baan moet verwissel om ’n komende afdraai-instruksie te volg. Dit help baie.

Inligting soos spoedgrense, ensovoorts word reeds op die meeste goeie satnavs weergegee en in voertuie soos Audi’s en BMW’s wat voorruitprojeksie het, word die genavigeerde roete en padtekens ook daar geprojekteer.

En ja, jy kan ook vanuit jou kar Facebook! Die meeste van die groot Duitse waens is opge-Google en die jongspan kan solank hul taakinligting op die ’net soek.

Boonop hoef hulle nie van webwerf tot webwerf te sweef op die kar se eie stelsel nie, maar kan jou wa in ’n wifi-kol omgeskep word en jy kan sommer van jou skootrekenaar of selfoon af jou wiele as internetdiensverskaffer gebruik.

En sogenaamde derdeparty-aanwendings (apps) is ook moontlik met BMW se nuwe kommunikasiestelsel.

Apple het reeds spesiale aflaaifunksies vir BMW deur sy iPhone ontwikkel en is tans besig om die Android-platform te betrek, wat binnekort ook vir BMW beskikbaar sal wees. Dit behels aanwendings vir binne die voertuig soos al die lekker goeters waarmee jy op jou selfoon speel, maar dié keer vir die voertuig.

Waar gaan alles eindig? Wel, dit is die miljoen-dollar-vraag soos die Amerikaners sal sê. Sommige reken dié is maar net die begin...

Volksblad
«Terug