Prof. Carel Snyman, afgetrede dosent in strafreg aan Unisa, skryf dat die uitspraak waarin die grondwethof die doodstraf in 1995 afgeskaf het, die mees katastrofiese gevolge van enige uitspraak op die samelewing gehad het (VB 13/09/2012).
Hy sê die waarde van die menslike lewe in Suid-Afrika was nog nooit laer as sedert die invoering van die “reg op lewe” en afskaffing van die doodstraf nie. Ek dink elke nugterdenkende mens sal met hom saamstem.
Daar is twee belangrike aspekte verbonde aan die “reg op lewe”. As medici is ons roeping om te veg vir die pasiënt se reg om te lewe. Elke pasiënt het daardie reg, maar ek het altyd aan my studente verduidelik dat ’n pasiënt terselfdertyd ook die reg het om te sterwe.
’n Breindood pasiënt behoort nie vir ’n onbepaalde tydperk met kunsmatige middele aan die lewe gehou te word nie. Die reg om te sterwe moet dus net so eerbiedig word as die reg om te lewe.
Die ander belangrike aspek is dat enige “reg” áltyd ’n gepaardgaande verantwoordelikheid het. ’n Geneesheer het sy reg om te praktiseer, en alles wat daarmee gepaard gaan, verkry deur jare van studie en opleiding.
Die oomblik wat hy egter die gepaardgaande verantwoordelikheid van daardie spesifieke reg misbruik, word sy reg om te praktiseer onmiddellik van hom af weggeneem.
Die reg om te lewe dra ook ’n integrerende verantwoordelikheid van respek vir die lewe van andere.
As iemand dus daardie verantwoordelikheid misbruik deur iemand anders sy reg om te lewe te ontneem, dan, soortgelyk aan die voorbeeld hierbo, behoort sy eie reg om te lewe ook van hom weggeneem te word.
Op die oomlik word daar in ons land soveel waarde geheg aan die moordenaar se reg om te lewe dat die reg om te lewe van sy volgende slagoffer wanneer hy op parool vrygelaat word, glad nie geag word nie.
Lees weer oor die betrokkenheid van die gewoontemisdadigerlede van die Izinyoka-bende van Trompsburg se rol in plaasmoorde (VB 14/9/2012).
Ek ondersteun prof. Snyman se standpunt dus ten volle.
Bloemfontein
Volksblad