Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Griekwastad-moorde se toetse afgehandel

Deur: Hilda Fourie 2012-05-26 05:20

DIE forensiese en ballistiese toetse in die ondersoek na die raaiselagtige moorde op drie lede van die Steenkamp-gesin op hul plaas buite Griekwastad in die Noord-Kaap, is afgehandel.

Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, wou nie gister bevestig of dié toetse voltooi is nie, nadat Volksblad dit by ’n betroubare bron vasgestel het.

Volgens Naidoo is die ondersoek na die moorde op Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), in ’n baie sensitiewe stadium.

“Enigiets wat ons nou sê, kan die ondersoek benadeel,” het Naidoo gesê.

“Al wat ek kan sê, is dat die ondersoek ver van klaar is.”

Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem ná dié grusame moorde verlede maand op Goeie Vrydag nie.

Deon en Christel is na bewering in hul oopplan-TV-kamer geskiet, terwyl Marthella glo vir haar lewe gevlug het, buite die huis geskiet is, terug in die huis gesleep en weer geskiet is.

Marthella se ouer broer, Don (15), het dié treurspel oorleef. Hy was glo nie in die huis tydens die skietery nie.

Volksblad
«Terug