Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Andries Tatane: ’n Jaar later

2012-04-16 22:12

Hoekom verbaas gister se Volksblad-opskrifte nie?

“Andries Tatane ‘se dood vergeefs’. Beloftes ná 1jaar nog leeg, sê suster.” “Alles lyk nog dieselfde ná ’n jaar.” “Kenners maan oor ‘tydbom’. Inwoners moeg vir leë beloftes.”

Tatane, ’n dienslewerings-aktivis, het ’n jaar gelede – op 13 April verlede jaar – in ’n reën van polisie-rubberkoeëls in Ficksburg gesterf toe hy en mede-dienslewerings-aktiviste op die dorp teen die haglike toestande in die township Meqheleng betoog het.

Eintlik was hul pleidooi vir dít waarvoor die ANC beloof hy beywer hom: ’n Beter lewe vir almal.

Tatane se dood het verlede jaar internasionale opslae gemaak. Dít het ’n halfhartige reaksie van die ANC ontlok. Sonder die negatiewe publisiteit sou daar seker geen reaksie gewees het nie.

Ná vele afgestelde besoeke het me. Mamiki Qabathe, LUR vir vir samewerkende regering, tradisionele sake en huisvesting, eindelik op die dorp opgedaag. Én apartheid die skuld vir die haglike leeftoestande in Meqheleng gegee.

Mnr. Ace Magashule, Vrystaatse premier, en ’n afvaardiging het ook weke later opgedaag. En vele beloftes geuiter.

Qabathe het eindelik ’n verslag oor die bedrywighede in die Setsoto-munisipaliteit bekend gemaak. Dit het grootskeepse korrupsie, nepotisme, swak bestuur en swak dienslewering uitgewys. Soos in baie ander munisipaliteite in die Vrystaat, Noord-Kaap en elders landwyd.

Intussen het sedertdien niks in Meqheleng of Setsoto gebeur nie. Buiten dat Magashule vir mnr. Sugar Ramakarane, ’n gesoute ANC-apparatsjiek, as Setsoto se munisipale bestuurder aangestel het.

Vir die inwoners van Meqheleng bly dit egter net meer van dieselfde: stinkende rou riool, onbegaanbare strate, gebrek aan basiese dienste, armoede en werkloosheid.

In ander informele nedersettings oor die hele Suid-Afrika heen gaan dit net so sleg. G’n wonder kenners meen informele nedersettings is ’n tikkende tydbom wat halssnoermoorde en nog gevalle soos dié van Tatane gaan oplewer tensy die regering drastiese stappe doen om armoede, dienslewering en werkloosheid in die bek te ruk.

Van dié drastiese stappe gaan ook niks kom nie. Die ANC se skinkbord is oorlaai met ander kwessies wat vir dié party veel belangriker is. Soos interne pleisterwerk, eenheidsvertoon na buite en ’n geskarrel vir posisies in die aanloop tot Mangaung 2012.

Soos Tatane se suster, me. Seipati Tatane, sê: Haar broer het verniet gesterf.

Volksblad
«Terug