Gister is berig oor die droogte wat dele van die sentrale streek teister, oor die invloed daarvan op die landbou, en oor die gevolge daarvan wat Jan Alleman se sak behoorlik kan ruk.
Dit beklemtoon net weer hoe belangrik die land se boere is. As die boere swaarkry, bedreig dit voedselsekuriteit en kan kospryse deur die dak skiet.
En ons land se boere word aan verskeie fronte bedreig. Een bedreiging waarvan daar tot op hede nog nie deeglik genoeg kennis geneem is nie, is die besoedeling van die land se waterbronne, hetsy deur riool, nywerhede, mynbou of ander bedrywighede.
Vandeesweek het die nuus bekend geword dat mnr. Koot Claassen, een van die land se voorste boere, besluit het om al sy grond in Mpumalanga te verkoop weens die mynbesoedeling in die provinsie.
’n Paar weke gelede was Carolina se drinkwater in die nuus omdat dit deur mynbedrywighede besoedel is en nou is dit ’n mega-boer soos Claassen wat besluit het hy het genoeg gehad.
Die besoedeling in veral Mpumalanga waarteen die regering al lankal gewaarsku word, is besig om sulke afmetings aan te neem dat dit voedselsekerheid in die land gouer eerder as later in die gedrang kan bring.
Die Hoëveld van Mpumalanga is ’n groot deel van die “kosmandjie van Suid-Afrika” en as hy weens besoedeling nie volle produksie kan lewer nie, is die land kniediep in die moeilikheid.
Die skuld hiervoor moet op die regering gepak word wat nie sy eie wette toepas nie.
Suid-Afrika se water- en omgewingswette kan met die beste ter wêreld vergelyk word, maar beteken niks as die regering dit nie uitvoer nie.
Te veel myne word toegelaat om onwettig te myn, die water te besoedel en die omgewing te vernietig.
In die bolope van die Vaalrivier alleen is daar byvoorbeeld nie minder nie as 15 onwettige steenkoolmyne.
Boonop het die regering toegelaat dat die spoorwegstelsel ten gronde gaan wat daartoe gelei het dat vragmotors die land se paaie stukkend ry en boere ten duurste moet betaal om hul produkte op die mark te kry.
Hoe dit ook al sy, ’n groot onus rus op die mynbou en ander nywerhede in die land, maar ook op munisipaliteite wat verantwoordelik is vir rioolbesoedeling, om hul kant skoon te hou.
Suid-Afrika kan nie bekostig dat landbouproduksie geknou word deur besoedeling nie.
Die land se boere word reeds deur genoeg ander uitdagings in die gesig gestaar!