DIT is begryplik dat verbruikers met groot verontwaardiging sal reageer op die nuus dat Eskom R36 miljoen uitgee aan partytjies vir sy personeel, terwyl stygende elektrisiteitstariewe een van die vernaamste struikelblokke vir groei en werkskepping geword het.
Daar is twee kante aan die saak as jy sou vra wat Eskom se personeel só spesiaal maak dat hulle partytjie mag hou terwyl die res van die land swaar kry in een van die ergste wêreld-resessies.
’n Moontlike antwoord is in die tweeweeklikse verslae oor die stand van die land se elektrisiteitsnetwerk. Daarin word dag vir dag uiteengesit wat die beskikbare opwekkingsvermoë was en hoe groot die landwye vraag na krag op elkeen van daardie dae was.
Dit gebeur nou gereeld dat die reserwe-elektrisiteit wat oorbly wanneer die vraag saans sy piek bereik, minder as 3% van Eskom se totale opwekkingsvermoë is.
Onlangs het die reserwemarge tot minder as 1% gedaal, terwyl ’n marge van 15% eintlik nodig is om ’n netwerk stabiel te hou. Dit wil dus gedoen wees dat ons nog nie ’n herhaling gehad het van Januarie 2008 toe die hele mynbedryf afgeskakel is om die netwerk te stabiliseer, gevolg deur maande van beurtkrag nie.
Dié episode het die land R50 miljard aan verlore produktiwiteit gekos. Eskom sou dus kon redeneer dat die R36 miljoen om die personeel te bedank wat ’n herhaling van 2008 help keer het, eintlik ’n klein bedraggie is.
Dit is egter hier waar die ander kant van die saak ter sprake kom: Eskom het nie alleen ’n verantwoordelikheid teenoor sy werkers nie – as diensverskaffer het hy ook ’n verantwoordelikheid om betrekkinge met Jan Publiek te bestuur.
Dis mense wat swaar kry onder stygende kragtariewe en min lus het vir ingewikkelde verduidelikings oor die penarie waarin Eskom hom bevind en die omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het. Dis mense wat tot by hul boordjies toe sat is vir die vermorsing van belastingbetalersgeld.
In dié opsig het Eskom se goed bedoelde poging om sy personeel te bedank, omgedraai en hom in die hakskeen van openbare aansien gebyt.
Volksblad