Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Caster pure goud in 800m

Deur: Marizanne Kok 2012-08-09 21:46

LONDEN. – Nou vir goud, Caster!

Dit was vanoggend die versugting van Suid-Afrika nadat Caster Semenya gisteraand stof in die oë van haar teenstanders geskop het om maklik tot die Olimpiese eindronde van die 800 m deur te dring.

Semenya, die wêreldkampioen van 2009, het haar halfeindronde in ’n tyd van 1 minuut en 57.68 sekondes gewen.

Sy het vir die eerste 600 m die kat uit die boom gekyk en die res van die deelnemers die pas laat bepaal, maar halfpad deur die tweede rondte besluit om haar stempel af te druk.

Met haar stewige versnelling kon die res nie bybly nie.

Dié vertoning – verreweg dié 21-jarige se beste van die jaar en ook die beste van die halfeindronde – onderstreep die selfvertroue waarmee sy twee weke gelede gesê het sy is in staat tot goud in Londen.

Die eerste halfeindronde is in 1:59.42 gewen deur die kampioen van 2008, Pamela Jelimo van Kenia, en die derde halfeindronde in 1:58.58 deur Maria Savinova van Rusland.

Semenya hoop nou om haar môreaand aan te sluit by Suid-Afrika se groeiende lys van Olimpiese medalje-wenners, wat gister nóg ’n naam bygekry het toe die kanovaarder Bridgitte Hartley brons in die K1-ka­nowedvaart oor 500 m gewen het.

Hartley het trane van blydskap gestort ná dié sukses, wat haar op Vrouedag Suid-Afrika se eerste vroulike Olimpiese medalje-wenner in 12 jaar gemaak het.

Suid-Afrika se tienkamp-atleet Willem Coertzen was met druktyd algeheel 13de ná agt items.

Met ’n totaal van 6 595 punte was hy 786 punte agter die voorloper, die Amerikaner Ashton Eaton, maar kon hy steeds baie trots op homself wees.


«Terug