Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Chelsea slag Villa

Deur: Sportredaksie 2012-12-23 21:42
LONDEN. – Chelsea se sokkerspan kan nog lánk nie afgeskryf word in die stryd om vanjaar se Engelse Premierliga-kroon nie.

Dít het die Blues gisteraand op Stamford Bridge duidelik gemaak deur Aston Villa met ’n reuse-telling van 8-0 af te ransel.

Dié Londense klub beleef ’n nagmerrie-seisoen ná sy geskiedkundige Europese Kam­pioeneliga-welslae vroeër vanjaar. Die Blues is onlangs uit die 2012-’13-seisoen se toernooi geboender en het boonop van afrigter verander.

Chelsea het verlede naweek ook teen alle verwagting in slae gekry in die eindstryd van die Wêreldbeker-klubreeks in Japan.

Tog het die afrigter Rafa Benitez se Chelsea-spelers gisteraand op hul tuisveld die doelkrane behoorlik oopgedraai teen die hulpelose Villains.

Fernando Torres, David Luiz, Branislav Ivanovic, Frank Lampard, Oscar én Eden Hazard het doele aangeteken – terwyl Ramires twee keer in die kol was.

Dít beteken Chelsea is nou derde op die Premierliga-puntelys – agter die Manchester-klubs, United en City.

United se voorsprong is vroeër verklein ná ’n verrassende gelykop-uitslag van 1-1 teen Swansea City. Die Walliesers het nie ’n duit teruggestaan nie vir die meer gevierde Manchester-span, in ’n vurige stryd wat so byna oorgekook het.

United se Robin van Persie en Ashley Williams van Swansea is laat in die wedstryd albei met geelkaarte beloon ná ’n onderonsie wat byna in ’n vuisgeveg uitgeloop het.

Patrice Evra het aan die besoekers die voorsprong besorg ná net 16 minute, toe sy kopskoot (van ’n Van Persie-dwarsaangee) die doelnet laat bult het.

Die Swans het sake 13 minute later gelykop gemaak, danksy sy doelskieter Miguel Michu.

En só het dit gebly – ondanks ’n magdom doelkanse – veral vir die manne in rooi.

Michu is nou boonop die voorste doelvraat in dié seisoen se reeks.

Dié 26-jarige Spanjaard was reeds 13 keer in die kol – een meer as Van Persie.

United was eergister nog 6 punte voor sy gehate buurman, City.

Gister se uitslag én die Citizens se dramatiese oorwinning van 1-0 oor Reading skaars 24 uur vroeër, het dit tot 4 laat krimp.

City moes wag tot diep in die beseringstyd om met Reading af te reken.

Gareth Barry se doel het aan die kampioen 3 waardevolle punte besorg.

City het lank gesukkel om die Reading-verdediging te deurpriem, met Barry wat die doel met ’n kopskoot behaal het vanaf ’n dwarsskop deur David Silva. Vir Reading was dit ’n hartverskeurende nederlaag, sy 11de van die seisoen en hy lê onderaan die puntelys.

Vroeër het Arsenal Wigan Athletic met 1-0 getroef, danksy ’n strafdoel deur Mikel Arteta.

Steven Pienaar se Everton is net een plek agter die Gunners nadat hy West Ham United met 2-1 verslaan het.

Tottenham Hotspur het ’n frustrerende gelykop-uitslag van 0-0 teen Stoke City beleef. 

«Terug