LYTHAM. – Noem die Big Easy sommer vanoggend Die Groot Kanniedood – met een van die grootste terugvegpogings van sy ganse loopbaan het Ernie Els jare van sukkel ver agter hom gelaat met ’n welverdiende terugkeer tot die major-verhoog.
Ernie Els is vanoggend wéér die Britse Ope-kampioen, tien jaar en een dag ná hy die Claret Jug in 2002 vir die eerste keer omhoog gehou het.
Dít het Els gister met een van die ongelooflikste rondtes gholf van sy lewe bewerkstellig, toe hy in winderige toestande aan Engeland se Fylde-kus ’n agterstand van ses houe oor nege putjies uitgewis het om die Australiër Adam Scott na die kroon te steek.
Els het 68 houe (twee minder as baansyfer) op sy telkaart ingevul ná vier voëltjies oor ’n foutlose laaste nege putjies by die Royal Lytham & St. Annes-gholfbaan.
Scott, daarteenoor, het gestruikel in die pylvak en met ’n 75 geëindig.
Min mense het gedink Els, nou al 42, het nog oor die vermoë beskik om ’n vierde major te wen – veral nadat hy nie vroeër vanjaar vir die Amerikaanse Meesterstoernooi kon kwalifiseer nie omdat hy die eerste keer in 18 jaar buite die wêreld se top-50 was.
Ná dit alles het die Big Easy in ’n stadium ook ophou glo.
“Verlede jaar was ek in ’n baie diep, donker gat – my loopbaan was op ’n afdraande en dit het gevoel of dit nooit weer sou regkom nie. Om deur dit alles te kom en hier te sit met die Claret Jug langs my is net ongelooflik, en ’n paar maande terug sou ek dit ook nie kon voorsien nie,” het Els gesê.
“Nou is dit ongelooflik – ek voel eintlik ’n bietjie lam.
“Dit sal seker oor ’n paar dae eers insink. Die oorweldigende emosie nou is verligting en opgewondenheid om huis toe te gaan en hierdie oomblik met my kinders te gaan deel.
Ek het die hele dag lank sethoue probeer sink met Ben (sy negejarige outistiese seuntjie) in my gedagtes, want hy raak baie opgewonde wanneer ek houe slaan en sethoue sink en ek wou hom opgewonde maak.”