Volksblad

Hansie verheug oor Mokoena

Deur: Wilhelm de Swardt 2012-07-06 21:50
PRETORIA. – Khotso Mokoena sal binnekort die maatband regtig ’n slag ver laat rek.

Só voorspel Hansie Coetzee, dié Suid-Afrikaanse verspringer se afrigter.

“Khotso se aanloop is 95% reg, daar is nog net ’n paar klein dingetjies waaraan ons nog moet werk.

“Wat my opgewonde maak, is dat die uitslae van sy vaart en kragtoetse beter is as toe hy 8.50?m in 2009 gespring het.

“Die laaste paar weke het ons ook daaraan gewerk om Khotso weer in sy eie vermoë te laat glo,” het Coetzee opgewonde vertel.

Mokoena is vandag in Madrid op ’n klein atletiekbyeenkoms in aksie.

Daarna sal hy aan die Diamantliga-byeenkomste in Londen en Parys deelneem.

)?Willem Coertzen, Suid-Afrika se Olimpiese tienkamp-atleet, wat in Londen bly en oefen, sê dat daar al klaar ’n groot gevoel van afwagting in die stad heers.

“Sekere paaie het al toegemaak en jy kan aanvoel daar gaan iets groots gebeur.”

Coertzen het gesê sy voorbereiding verloop goed vir die Spele wat op 27 Julie begin.

“Die weer speel net nie altyd lekker saam nie.

“Die vorige naweek toe ek aan ’n paar nommers deelgeneem het, was die wind, en nie die stophorlosie en die maatband nie, my grootste teenstander.”

)?Johan Landsman, Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 1?500?m, het met sy omstrede uitlatings op Facebook vir Johan Cronjé en Juan van Deventer nuwe motivering gegee om nie die handdoek in te gooi nie.

“Ek en Juan het ’n ooreenkoms gesluit waarin ons ooreengekom het dat ons nie sal uittree voordat ons nie Landsman se rekord van 3:33.56 verbeter het nie,” het Cronjé gesê.

Cronjé is waarskynlik die ongelukkigste atleet om nie aan die Spele deel te neem nie. Hy het die Olimpiese kwalifiserende A-vereiste met sy tyd van 3:35.33 een keer oortref en ’n paar keer die kwalifiserende B-vereiste.

James Evans, voorsitter van Atletiek Suid-Afrika (ASA), het ’n spesiale versoek tot die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) gerig om Cronjé te kies omdat hy so seker is dat hy op die Spele tot die eindronde sou deurdring. Saskok wou niks daarvan weet nie.

Dis interessant dat net André Olivier (800), Mokoena (verspring) en Sunette Viljoen (spiesgooi) van Januarie tot einde Junie daarin kon slaag om twee keer die kwalifiserende A-vereiste te oortref. Volgens Cronjé is 2012 se kwalifiserende A-vereiste in die 1?500 amper ’n sekonde vinniger as vir die 2008-Spele in Beijing.
«Terug