LONDEN. – Die Richardsbaaier Bridgitte Hartley hoop om Vrouedag môreoggend met ’n groot gejuig te begin wanneer sy vir die eindronde van die K1-kanowedvaart oor 500m aantree.
Hartley, die wêreldrekordhouer oor dié afstand, het gister haar halfeindronde in 1 minuut en 51.286 sekondes gewen om haar plek in die A-eindronde te bespreek. Sy was ná 250 m in die tweede plek, maar het oor die laaste helfte die versneller ingetrap om te wen en met ’n stewige dosis selfvertroue weg te stap.
“Die plan was nie regtig om (die halfeindronde) te wen nie – ek het net gedink top-2, top-2, want dan kwalifiseer jy regstreeks vir die eindronde. Maar ek het so hard gedruk as wat ek kon en gewen, wat goed is want dit wys my strategie is die regte een. Die idee was altyd om oor die laaste 250 m te versnel,” het Hartley gesê.
Hartley hou die wêreldrekord – 1:46.90 – sedert verlede Augustus, toe sy dit in die B-eindronde van ’n Wêreldbeker-byeenkoms in Hongarye verbeter het. Daar is dus geen twyfel oor waartoe sy in staat is nie.
Daardie byeenkoms het haar ook op die harde manier geleer dat die moeilikste deel dikwels is om vir die medalje-vaart te kwalifiseer, omdat die mededinging in haar sportsoort bitter sterk is. Hongarye het dalk ’n nuwe wêreldkerf opgelewer, maar geen silwerware nie, omdat sy nie in die top-8 was nie.
“Ek is verlig om die halfeindronde te wen, want dit wys ek is daar bo saam met die top-vroue. Soms is die halfeindronde moeiliker as die eindronde, so ek is baie tevrede. (Môre) moet ek presies doen wat ek gedoen het, en maak asof dit net nog ’n resies is. Ek was senuagtig voor die halfeindronde, maar ek wil dit nie weer doen nie – ek wil ontspanne bly voor die eindronde,” het Hartley gesê.
Haar tyd was die naasvinnigste van die drie halfeindvaarte, met net die Hongaar Danuta Kozak vinniger in 1:50.46