BLOEMFONTEIN. – Met die eerste toets teen Skotland môre sal die Suid-Afrikaanse vroue-hokkiespelers vir oulaas om plekke vir die Olimpiese Spele kan meeding.
Die Olimpiese groep van 16 spelers sal môre in Glasgow saamgestel word.
Dit sal Maandag aan die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) voorgelê word. Saskok sal die name dan op 7 Junie amptelik aankondig.
Spelers wat gewoonlik nie in die span is nie, het in die afwesigheid van ’n paar staatmakers in die twee oefenwedstryde teen Brittanje vandeesweek in Londen kans gehad om nog ’n kleim af te steek.
Dit het gister, ná ’n vermoeiende reis uit Amsterdam die vorige dag, heelwat beter met die Suid-Afrikaners gegaan. Hoewel dit ’n beter vertoning was, het die Proteas geen doel in hul herontmoeting met Brittanje in Bisham Abbey aangeteken nie.
Die Britte het hul sege van 5-1 eergister in die Riverbank-arena met nog ’n sege van 3-0 in dié tweede oefenstryd opgevolg.
Les Galloway, SA se spanbestuurder, het gesê hoewel hulle nie op die telbord was nie, is talle geleenthede geskep wat bemoedigend voor die toetsreeks teen Skotland is.
Die besoekers was weer sonder Pietie Coetzee, Kate Woods, Tarryn Bright, asook die beseerde Lauren Penny.
Die webtuiste sahockey.co.za berig Shelley Russell was oudergewoonte ’n doring in die vlees van die Britte aan die linkerflank van die veld.
Sy het die vorige dag se wedstryd weens visum-probleme misgeloop.
’n Klompie skeidsregterbeslissings het die wedstryd so byna ontsier. Een het op ’n strafdoel uitgeloop. Chloe Rogers het geen fout van die strafkolletjie af gemaak nie om die tuisspan met rustyd met 1-0 te laat voorloop.
Sally Walton se doel nege minute voor die einde het dit 3-0 gemaak.
Die Proteas sal met die toernooi om die Londenbeker in Junie op volsterkte weer teen Brittanje speel.
Intussen sal die vyf toetse teen Skotland op die internet aanskou kan word.
)Die doelwagters Brendon Botes en Jacques le Roux is gevra om hulle? weer by die nasionale manspan se oefenkamp in Bloemfontein aan te sluit.
Michael Smith was Rassie Pieterse se adjudant-doelwagter in die Olimpiese kwalifiseringstoernooi in Japan. Die oefengroep sal van Maandag af by die Kovsiebane byeen wees.
)Die groep is: Doelwagters: Rassie Pieterse, Jacques le Roux, Brendon Botes. Verdedigers: Rhett Halkett, Lloyd Madsen, Andrew Cronjé, Justin Reid-Ross, Lance Louw, Ricky West, Clinton Panther. Middelveldspelers: Austin Smith (k), Wade Paton, Tim Drummond, Taine Paton, Jonty Robinson, Nic Gonsalves. Doelskieters: Ian Haley, Marvin Harper, Lloyd Norris-Jones, Julian Hykes, Thornton McDade, Miguel da Graca.
Volksblad