Volksblad

Nadal nou amptelik tennis se Mnr. Klei

2012-06-12 05:30

PARYS. – Nóú is hy die onbetwiste Koning van Klei.

Rafael Nadal van Spanje het die eerste speler geword om die Franse Ope-enkelspeltitel sewe keer te wen toe hy die eerste gekeurde, Novak Djokovic van Serwië, gister in hul uitgestelde eindstryd verslaan het. In sy enigste wedstryd in vier stelle in vanjaar se toernooi het Nadal eindelik met 6-4, 6-3, 2-6 en 7-5 daarin geslaag om die geskiedenisboeke te herskryf.

Hy het verbeter op die ses titels wat Björn Borg in sy roemryke loopbaan op Roland Garros behaal het. Dié Sweed het in 1974 en ’75 en toe van 1978 tot ’81 die Franse Ope gewen.

Maar Rafa het gewys hy is die ware monsieur d’argile. Hy was nou sedert 2005 nog elke jaar die wenner met uitsondering van 2009 toe Robin Soderling hom in sy enigste nederlaag tot nog toe in Parys in die vierde ronde uitgeskakel het.

Die eindstryd is Sondag vir die eerste keer in 39 jaar weens reën vir die dag afgelas. Spel is gister op 6-4, 6-3, 2-6, 1-2 in die vierde stel voortgesit. Nadal het dadelik teruggebreek om dit 2-2 te maak.

Djokovic het op 5-6 afgeslaan om ’n valbylpot af te dwing. Op 30-40 – die eerste wedstrydpunt aan Nadal – het die Serwiër ’n dubbelfout begaan. Dieselfde speler wat in Mebourne sy hemp van sy lyf af geskeur het van blydskap, het kop omlaag begin aanstap om die formaliteite uit die weg te kry. Rafa het die keer vol adrenalien sy raket neergesmyt en die paviljoen bestyg na waar sy familie en afrigtingspan gesit het.

Hy het ná die tyd gesê die Franse Ope bly die mees spesiale toernooi vir hom. En om die sewende keer daar as oorwinnaar van die baan te stap – dit was sy 11de Grand Slam-titel – was die spesiaalste en onvergeetlikste oomblik nog.

Hy was bly spel is Sondag stopgesit omdat die toestande nie geskik vir ’n eindstryd was nie.

Hy erken hy het ’n moeilike nag agter die rug gehad en dat die senuwees tot kort voor die die hervatting nog geknaag het nadat Djokovic Sondag goed afgesluit het.

Djokovic het gesê hy was teleurgsteld toe spel Sondag vir die tweede keer stopgesit is.

Hy was goed op stryk toe dit gebeur het. Hy gee ook toe dat Sondag se eerste reën-onderbreking hom gehelp het.

“Maar ek gaan nie nou omdat verloor het sê dit was jou, en jou, skuld nie.

“Dis net ongelukkig (spel is Sondag gestaak), want ek dink ek het beter begin speel.

“Hy het vandag rêrig sterk begin. Ek was ietwat stadiger.”

Djokovic se drome om soos Don Budge (1938) en Rod Laver (1962 en 1969) al vier Slams gelyktydig te hou lê nou aan skerwe. Hy erken nietemin dat hy deur ’n beter speler – beslis die beste speler in die geskiedenis op klei – geklop is.

Djokovic was in sy eerste eindstryd hier ook die eerste speler in vanjaar se toernooi om ’n stel teen Nadal te wen. - Sapa-AFP, Johann de Jager

Volksblad
«Terug