BRISTOL. – Mickey Arthur glo sy Australiese krieketspan se toetsreeks in November teen Suid-Afrika sal weer ’n stryd om die nr.1-posisie wees.
“Die wenner van daardie reeks sal dan die voorste toetsland ter wêreld wees – en ek sien baie uit na wat ’n watertand-stryd?sal wees,” het dié afrigter aan ESPNcricinfo gesê.
“Om Suid-Afrika te klop, moet jy baie gedissiplineerd wees oor ’n lang tydperk,” het Arthur, die voormalige Suid-Afrikaanse afrigter, bygevoeg.
“Hulle het ’n baie goeie kaptein (Graeme Smith) en ook ’n baie goeie afrigter (Gary Kirsten) en is ’n sterk eenheid sonder ooglopende swakplekke.
“Ons het ook ’n gevestigde toetsspan en daarom kan ek nie wag vir hierdie reeks (op eie bodem) om te begin nie.”
Arthur is nie verbaas oor die Suid-Afrikaners se sukses teen Engeland nie, want hy sê as Andrew Strauss en Alastair Cook kolf, was dit al in sy tydperk aan die stuur van Suid-Afrika die strategie om óm die paaltjies na hulle te boul.
Dit was juis van die bewerings wat teen Kevin Pietersen gemaak is dat hy in van sy teksboodskappe aan die Suid-Afrikaners sou voorgestel het dat hulle daardie lyn teen dié aanvangskolwers boul.
Wat die Pietersen-sage betref, het Arthur gesê dit sal jare duur om die skade wat berokken is, te herstel. “Engeland het geen ander keuse gehad as om hom uit te gooi nie en hulle het reg opgetree.
“Vertroue in ’n span vat tot twee jaar om op te bou, maar dit kan in twee minute vernietig word. Niemand is groter as die spel nie en die kliniese manier waarop opgetree is, was die korrekte een.”
Andy Flower, die Engelse afrigter, het gesê die enigste manier waarop Pietersen enige vorm van vergifnis sal kry, is as hy presies onthul wat hy in sy teksboodskappe gesê het.
Die snelbouler James Anderson het dit duidelik gemaak dat die spelers hulle aan die kant van hul afrigter, Flower, en kaptein, Strauss, skaar in die sage.