Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Amla meer as 13 uur voor paaltjies

Deur: Christo Buchner 2012-07-22 22:34
LONDEN. – “Wat my die grootste plesier gee, is dat ek kon help om Suid-Afrika vandag in ’n wenposisie te kry,” het die nederige Hashim Amla gisteraand hier op die Oval gesê nadat hy die eerste Suid-Afrikaanse kolwer tot nog toe geword het wat 300 lopies in ’n toetsbeurt slaan.

Daar was geen bravade ná hierdie merkwaardige vertoning in meer as 13 ure voor die paaltjies nie.

Maar dit is Hashim Amla se geaardheid.

Behalwe ’n amper skaam glimlag, sou jy nie andersins kon droom wat hy gister bereik het nie.

Sy onoorwonne kolfbeurt van 311, saam met ’n onoorwonne 182 van Jacques Kallis en Graeme Smith se 131 het Suid-Afrika ’n enorme 637/2 besorg.

Engeland sukkel op 102/4 in sy tweede beurt van die eerste kriekettoets en het vandag nog 150 lopies nodig om Suid-Afrika weer te laat kolf.

“Ons boulers het die bal gekry om mooi te gesels hier aan die einde van die dag en hopelik kan ons môre (vandag) daardie oorblywende ses paaltjies kry en hierdie toets wen,” het Amla.

“Ek was eintlik baie verbaas om by 300 uit te kom. Teen die tempo wat ek gewoonlik kolf, het ek nie gedink so iets sou moontlik wees nie.

“Dit was eers toe ek by 250 uitgekom het, dat ek begin dink het aan die moontlikheid van 300 lopies.

“Jacques (Kallis) het my baie gehelp deur daardie tydperk deur my moed in te praat.

“Gelukkig was die Engelse veldplasing baie wyd uitgesprei en kon ek heelwat maklike enkellopies kry.

“Ek is nie iemand wat my dit ten doel stel om rekords te verbeter nie, want ek weet dit kom en gaan, en dit is maar van verbygaande aard,” het Amla gesê.

“Dit is veel belangriker dat ons daardie laaste ses paaltjies neem en daarom sal ons môre (vandag) van die eerste bal af die druk op hulle moet plaas.”

Graham Gooch, die Engelse kolfafrigter, het die versekering gegee sy span het nog nie die geveg gewonne gegee nie.

“Ons gaan probeer om met die twee kolwers wat nou in is, ’n goeie vennootskap te bou en te kyk of ons kan uithou tot ete.

“Dit sal wel ’n groot kolfpoging verg, maar ons gaan nie wegskram nie.

“Jy moet dit nou bal vir bal vat en nie te ver vooruit dink nie. Ons moet erken dinge het tot dusver nie in ons rigting gegaan nie en ons wen beslis nie hierdie een nie.

“Tog moet jy bly glo dat jy sake kan red en die toets onbeslis laat eindig. Ons boulers kon nie enigiets uit die blad kry nie, maar dit help nie ons huil daaroor nie.”

Gooch was vol lof vir Amla se wonderlike beurt.

“Hy het ’n goeie tegniek, die regte ingesteldheid en uitstekende konsentrasie nodig om so iets te kan doen en hy het al daardie vaardighede. Hy verdien al die krediet wat hy kan kry vir wat hy reggekry het.”
 
«Terug