LONDEN. – “Wat in die verlede gebeur het, maak nie nou saak nie.
“Wanneer ek uitstap om te gaan kolf,, staan daar nul agter my naam – en dít is waarvandaan ek moet werk.”
Dis met hierdie filosofie wat Jacques Kallis gister hier by die Oval, waar die eerste toets teen Engeland môre begin, sy benadering tot die toetsreeks uitgespel het.
“Ek kan nie verduidelik hoekom ek op die vorige twee toere hier nie die lopies gekry het wat ek wou nie.
“Gelukkig behoort dit tot die verlede en wanneer ek uitstap met nul agter my naam, kry ek die kans om sake reg te stel. Krieket is nie soos Formule Een-motorwedrenne waar jy vooraf moet presteer in die oefeninge om ’n sekere plek op die wegspring-rooster te kry nie.
“Ek sal selfs ook hierdie keer bereid wees om ’n persoonlike swak toer te aanvaar as ons net die reeks kan wen,” het Kallis met ’n groot glimlag gesê.
“Hierdie (Engeland) is ’n fantastiese plek om in krieket te speel en die toeskouers hier kén die spel. Ek hoop dit gaan intens raak op die veld, maar dat die toetse in ’n goeie gees beslis sal word.
“Om teenstanders te probeer intimideer deur hulle verbaal die stryd aan te sê, is nie deel van hoe ek die spel speel nie. Ek steur my ook nie daaraan as ouens vir my allerhande goed sê nie.
“Dis nie my styl nie,” het Kallis gesê.
“Ons gaan daarop ingestel wees om te beheer wat ons kan en net te fokus op die taak wat afgehandel moet word om die reeks te probeer wen.”
Hy erken dit het die spelers ’n paar dae geneem om die Mark Boucher-voorval te verwerk, “want dit was nie mooi om daar te wees en alles van naby te sien gebeur nie.
“Dis ’n groot verlies om Mark nie meer hier te hê nie, maar dit het ons nader aan mekaar gebring – en hy self wil ook hê ons moet nie oor hom tob nie, maar aangaan soos altyd en daarop konsentreer om die reeks te wen.”
Kallis sê hy is baie fiks en geniet nog sy krieket baie.
“Ek het veral ook hard gewerk aan my boulwerk en wil daarmee óók ’n groot bydrae lewer op hierdie toer.”
- James Anderson, die Engelse snelbouler, erken daar wag ’n groot uitdaging op hulle om te klou aan hul posisie as die voorste toetsland ter wêreld.
“Ek glo egter ons het die wapens om hulle te klop, maar sal vanuit die staanspoor op ons beste moet wees,” het Anderson gesê.

Vernon Philander slyp gister in Londen vir die eerste toets. Foto: Gareth Copley, Getty Images