Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Proteas maak wéér skandes

Deur: Altus Momberg 2012-06-22 22:34

KAAPSTAD. – Hulle kan nie kolf nie. Hulle kan nie boul nie en hulle kan ook nie veldwerk doen nie. Behalwe daarvoor is die Proteas ’n goeie span.

Suid-Afrika se t20-span het gister in Harare sy tweede agtereenvolgende wedstryd teen twee van die sukkelspanne in wêreldkrieket verloor.

Bangladesj was heeltemal te goed vir Gary Kirsten (SA afrigter) se manne en het hul wedstryd in die driehoekige reeks in Zimbabwe met 3 paaltjies gewen. Dít nadat Zimbabwe die Proteas ook Woensdag laat les opsê het toe hy met 29 lopies baas was.

Die Suid-Afrikaners móét nou vandag se wedstryd teen Zimbabwe wen om môre se eindstryd te haal. Nóg ’n nederlaag en dit is Zimbabwe teen Bangladesj in die eindstryd.

En ná die Proteas se laaste twee nederlae is dit beslis nie ’n uitgemaakte saak dat hulle Zimbabwe sal troef nie.

Suid-Afrika speel wel sonder ’n hele klomp van sy beste spelers, maar dit is geen verskoning teen dié geselskap nie.

Die Proteas het van meet af aan gesukkel om gewoond te raak aan die skilpadagtige aard van die kolfblad en was effe gelukkig om 129/7 van hul 20 boulbeurte te kry. Selfs Justin Ontong, wat met 41 lopies (36 balle) die beurt aan die gang gehou het, het met moeite gekolf.

Suid-Afrika kon nie die wurggreep van die Tiere se draaiers afskud nie en het net 9 grenshoue gemoker.

Vergelyk dit met die Proteas se eerste wedstryd Maandag toe hulle 31 teen dié einste Bangladesj-span geslaan het.

Daar was ook 46 balle uit die 120 van die kolfbeurt waarvan geen lopies aangeteken is nie.

Farhaan Behardien, in sy tweede t20-wedstryd, het veral gespook teen die Tiere.

Hy het 26 balle vir sy 16 lopies benodig.

Sake gaan egter vandag nie makliker word nie.

Hulle het Woensdag ook teen Zimbabwe se draaiers gesukkel en die blad sal vandag straks nóg stadiger wees.

Die kolwers kan nie alleen blameer word vir die vertoning nie. Hashim Amla, die Proteas se kaptein, het gesê hul veldwerk het hulle duur te staan gekom.

“Ons het omtrent 20 lopies te min aangeteken, maar ons behoort 130 op dié kolfblad te kan verdedig. “Ons sal maar sien hoe ons span môre gaan veldwerk doen.”

Bangladesj se taak is makliker gemaak toe Marchant de Lange 18 lopies in sy tweede boulbeurt afgestaan het.

Die vertoning in die veld was uiters swak. Nie net het die Proteas wéér ’n hele paar vangkanse verbrou nie, maar hulle het ook met swak dissipline geboul. Altesame 20 ekstras, insluitende 10 bykomende aflewerings (2 foutballe en 8 wydlopers) is ongehoord.

Die feit dat die wenlopies (132/7) van die voorlaaste bal gemoker is deur ’n kolwer, Ziaur Rahman, wat laat val is en “geboul” is van ’n foutbal wys op die harde werk wat op Kirsten en sy afrigtingspan wag.

Volksblad
«Terug