KAAPSTAD. – Hoe gemaak met Willem Alberts?
Dís ’n lekkerder probleem vir Alberts se afrigter by die Sharks, John Plumtree, as wat dit vir sy teenstanders van Saterdag, die Reds in Brisbane, gaan wees.
Alberts sal waarskynlik ’n sleutelrol speel indien die Durbaniete die Australiese kampioenspan fnuik – maar in watter hoedanigheid?
Dié stormram Springbok-flank het oor die naweek teen die Cheetahs eers sy terugkeer gemaak ná hy sy knie in die tweede toets teen Engeland beseer het – en hy het die gety help swaai in die meer as 40 minute dat hy op die veld was.
Dat hy dodelike impak kan verleen, is welbekend, maar dat daai selfde kraglopies oor 80 minute meer invloed kan hê as oor ’n halfuur, kan ook nie wegredeneer word nie.
Maar in Alberts se afwesigheid het die Sharks-losvoorspelers Keegan Daniel, Marcell Coetzee en Ryan Kankowski teen die Bulls geïllustreer watter goed gebalanseerde trio hul vorm.
Plumtree sal sterk oorweeg om nie hiermee te torring nie.
Kankowski kan ook met vrug as impakspeler ingespan word, maar dit voel asof dié man aan die vooraand daarvan staan om sy potensiaal weekliks te verwesenlik en dit kan teen-produktief wees om hom nou bank toe te skuif.
Dit laat Coetzee, die vonds van die SA seisoen tot dusver, en Daniel, die invloedryke Sharks-kaptein, wat self die beste vorm van sy loopbaan handhaaf.
Coetzee speel gemaklik aan albei kante van die skrum, Daniel is ewe tuis aan die oopkant as op agtsteman en Kankowski sowel en Alberts is ewe tuis in truie 7 en 8, so die moontlikhede is eindeloos.
Met Pieter-Steph du Toit, soos Pat Lambie, op die krukkelys met ’n enkelbesering, is daar plek-plek hardop gewonder of Alberts nie op slot moet sak nie. Maar dit sal sy doeltreffendheid verminder en bowendien is Steven Sykes weer slaggereed en die slot-posisie g’n probleem nie.
Sykes het ’n beter speler uit Ierland teruggekom en was dié seisoen ’n groot staatmaker.
Sy terugkeer saam met dié van Beast Mtawarira, wat die Cheetahs-wedstryd weens maaggriep misgeloop het, sal die pak genoeg stukrag gee dat Alberts met vrug tot die laaste halfuur gebêre sal kan word om behoorlik pandemonium te saai.
Agterlangs sal Louis Ludik heelagter speel in Lambie se plek.
- Wie die skoene sal volstaan van Frans Steyn is ’n effens moeiliker kwessie.
Tog lyk die kans goed dat Plumtree sal besluit op die senter-kombinasie van vóór Steyn se terugkeer na Durban – met Tim Whitehead as binnesenter en die SA o.20-ster Paul Jordaan aan sy buitekant.