JOHANNESBURG. – Bjorn Basson, ’n Springbok-vleuel van die Bulls, sal vir sowat twee maande nie kan rugby speel nie nadat hy gisteroggend vroeg weens ’n geskeurde dunderm ’n noodoperasie in Christchurch ondergaan het.
Basson is kort voor rustyd in die Bulls se teleurstellende nederlaag van 13-28 in ’n Super-rugby-uitklopstryd teen die Crusaders, van die veld met dié besering.
’n Teenstander se knie het hom in die maag getref toe albei gespring het om ’n bal te vang. Hoewel Basson op die veld gebly het in die hoop dat hy sal herstel, is hy oomblikke later noodgedwonge deur Francois Venter vervang.
In die hospitaal is vasgestel sy dunderm is geskeur en hy het om 03:00 ’n noodoperasie ondergaan.
Hy moet vyf dae in die hospitaal in Christchurch deurbring voordat hy na Suid-Afrika terugkeer.
Volgens Barend van Graan, die uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy, het die spandokter, Org Strauss, saam met Basson agtergebly terwyl sy spanmaats gisteroggend na Sydney vertrek het. Hulle kom vandag in Suid-Afrika aan. “Ons spandokter, Org Strauss, het by hom gebly en ons het reeds sy vrou oor sy besering laat weet.”
Basson sal tussen ses en agt weke nie kan rugby speel nie, wat beteken hy sal nie vir die Springbokke se eerste wedstryde in die Rugby-kampioenskap teen Australië, Argentinië en Nieu-Seeland beskikbaar wees nie.
Dit is ’n groot terugslag, aangesien die haastige Basson ’n goeie seisoen beleef en een van die Bulls se beste spelers in hul 2012-veldtog in Super-rugby was.
Benewens Basson, is hul haker, Chiliboy Ralepelle, en Basson se vleuelmaat, Akona Ndungane, ook met beserings van die veld.