DURBAN. – Die Springbokke se voorrymanne het gister sonder die hulp van ’n skrummasjien behoorlik gekreun voor Saterdag se rugbytoets teen Engeland hier op Kingspark.
Met gewigte op hul skouers en rûe in skrumposisies, moes die Bok-ysters ter voorbereiding van ’n stryd teen een van die voorste skrums ter wêreld met hul pyngrense “kennis maak”.
“Engeland kom hierheen om vir hulle (spelers) ’n goeie grondslag met hul skrum te lê, maar Suid-Afrika het óók ’n goeie skrum. Ons moet hulle dáár aanvat,” het die Bokke se skrum-breier, Pieter de Villiers, gesê.
“Dis belangrik om dadelik te wys van watter stoffasie ons gemaak is.”
Die idee met die unieke spesifieke posisie-oefeninge waaraan die Bokke blootgestel is, is om elke spier te oefen wat in skrumwerk ’n rol speel. Die gewigte wat op hul rûe gebalanseer is, het konstante beweging in skrumposisies geverg en hul maagspiere geoefen, terwyl dié op hul skouers die manne van balans gegooi en só die loskopstutte se armspiere en die vaskopstutte se skouers ingeoefen het.
“Dis oefeninge wat klem lê op areas van jou lyf wat tydens skrumwerk ingespan word.
“Jou groot spiere is uit die aard van die saak belangrik, maar daar is baie klein spiertjies wat óók betrokke is in skrumwerk en dis spierstelsels wat op ’n ander manier werk.
“Jy wil die uithouvermoë wat met jou skrumtegniek verband hou by die oefeninge inwerk.”
Engeland se skrumkrag is vroeër vanjaar goed uitgebeeld in sy Sesnasies-kragmeting met Ierland, waar die stutte Dan Cole en Alex Corbisiero vir die Rose die weg na ’n sege gebaan het.
“Die skrums is baie belangrik vir spanne van die Noordelike Halfrond. Engeland werk hard ná die inslaan, bly bymekaar en praat baie by die faset,” het De Villiers gesê.
“Hulle put trots daaruit en Graham Rowntree, hul voorspeler-afrigter, is ’n ou hand. Dit gaan ’n interessante stryd wees.”
Die Bok-voorry wat daardie aanslag sal moet afweer, is Beast Mtawarira en die Du Plessis-broers, Bismarck en Jannie.
Albei spanne word geken aan hul fisieke benadering en Bismarck was geamuseerd oor hoe die media die “geveg” beklemtoon het. “Ek moet eerlik wees en sê dat ek nogal ’n straatgeveg sal geniet. Dit klink of julle ouens ’n bakleiery wil sien. Hopelik gebeur dit nie!
“Engeland is ’n baie fisieke span en die voorspelers verskaf altyd die dryfkrag. Hulle rig voorlangs ’n uitdaging. Ons aanvaar dit en wil vir Engeland iets gee wat hulle nie verwag nie.”
So van straatgevegte gepraat: Bismarck se regstreekse teenstander kan Dylan Hartley wees. Hy het onlangs nog ’n skorsing uitgedien nadat hy die Ierse flank Stephen Ferris gebyt het.
Wat lees Bismarck daarin, wou ’n Engelse joernalis weet. “Ek lees niks in ander mense se gedrag nie. Ek is ’n Boerseun en lees die Landbouweekblad!”
Volksblad