BLOEMFONTEIN. – Daar sal môre twee Beasts in die Haaitenk uitdraf, maar dis die kalfie eerder as die strydros op wie die kollig gaan wees.
Die Beast van Bloemfontein, Trevor Nyakane, sal voor die grootste toets van sy jong rugbyloopbaan te staan kom wanneer hy teen die Springbok-vaskopstut Jannie du Plessis in die skrum sak.
Boonop sal Nyakane, wat deur sy spanmaats Beast genoem word, die mees onervare speler in die begin-voorrye in die Super-wedstryd in Durban wees.
Hoewel die 23-jarige Cheetah nog nie ’n reputasie soos sy naamgenoot, Tendai (Beast) Mtawarira van die Sharks, het nie, meen Naka Drotské, sy afrigter, hy het sy Super-kans aangegryp.
Selfs met die Bok-haker Bismarck du Plessis weens ’n kniebesering op die Sharks se plaasvervangersbank, wag ’n gedugte taak op Nyakane en sy voorry, Adriaan Strauss en WP Nel.
Die tuisspan se Bok-voorry het verlede naweek sy skrumspiere behoorlik teen die Bulls gebult.
Gelukkig was die Cheetahs volgens Drotské ook teen die Stormers baas in die skrums.
Veral Nel het ’n barshou geskrum en sal vir oulaas ’n goeie skrumsessie teen Mtawarira wil inkry voordat hy op die vliegtuig Skotland toe klim. Nel sluit hom ná die stryd by die Skotse klubspan Edinburgh aan.
“Jy speel teen ’n Springbok-voorry (benewens Craig Burden) en kan verwag hulle gaan jou in die skrums aanvat. Ons was self goed teen die Stormers en sal reg wees vir hulle,” het Drotské gesê.
En al dra Burden die Sharks se nr.?2-trui, sal hy tussen Mtawarira en Jannie sak, met Bismarck as plaasvervanger.
Nyakane het vanjaar sy Super-buiging gemaak, soms groot belofte getoon en is sedert Coenie Oosthuizen se nekbesering die Cheetahs se eerste keuse op loskop.
Maar in 2012 se eerste wedstryd teen die Sharks was hy ’n plaasvervanger. Die boorling van Bosbokrand het ook nie in die nederlaag van 20-34 teen die Sharks se Jannie geskrum nie. Nyakane het WP Nel in die 74ste minuut as vaskop vervang en slegs ’n paar minute teen Mtawarira gespeel. Jannie is boonop in die 57ste minuut deur Wiehahn Herbst vervang.
Maar Drotské meen Nyakane sal sy man staan.
“Trevor het sy kans gekry en gebruik dit. Hy skrum goed en is woelig in die vaste los.
“Hy is nog jonk en Marcel (van der Merwe) is ook daar.”
Die breier het gesê met die veelsydige Nyakane en Van der Merwe, ’n plaasvervanger teen die Sharks, in sy 22-tal het hy ook meer opsies. “Ek kan albei al twee kante van die skrum laat speel en dis ’n groot voordeel.”