JOHANNESBURG. – Diegene wat verlede week vir Patrick Lambie se insluiting as heelagter bó Zane Kirchner gepleit het, gaan straks hul sin kry.
Lambie sal volgens alle aanduidings in dié posisie by Kirchner vir die Springbokke se tweede rugbytoets Saterdag teen Engeland op Coca-Colapark oorneem.
’n Kniebesering wat Kirchner in die eerste helfte van Saterdag se eerste toets in Durban opgedoen het, sal hom uit die volgende kragmeting hou. Die mate van sy herstel sal bepaal of hy vir die derde toets oorweeg sal word.
Die waarskynlike insluiting van Lambie is iets waarvan die Engelse deeglik sal kennis neem.
Lambie het vanjaar as losskakel goeie rugby vir die Sharks gespeel. Hy het egter in die Super-kragmeting met die Lions ’n swakkerige wedstryd as heelagter beleef toe sy span ’n skoknederlaag gely het.
Die Lions het Lambie met slim aanvallende skoppe getreiter en sy posisionele spel op dieselfde veld waarop die tweede toets gespeel sal word, is deeglik beproef. Hy was wankelrig.
Vir die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, is Kirchner se besering ’n terugslag, aangesien hy nie van plan was om ná die Durban-toets aan sy wenspan te torring nie.
Lambie se weglating uit die beginspan is in baie kringe as omstrede beskou, veral omdat hy ’n meer veelsydige en vindingryke speler as Kirchner is.
Tog het Kirchner ’n bestendige vertoning in die laaste vesting gelewer, iets wat selfs sy kritici sal erken. Sy posisionele oordeel as heelagter is sy sterkpunt.
Sy besering bring ook mee dat die Kaapse klaagliedere oor hul skrapse verteenwoordiging in die Bok-groep effens sal kwyn, aangesien Gio Aplon gister as plaasvervanger vir Kirchner in die Bok-groep ingesluit is.
Die Bulls-stut Dean Greyling is as voorsorgmaatreël in die groep opgeneem omdat die Cheetahs-stut Coenie Oosthuizen, van wie die Engelse behoorlik kennis geneem het toe hy as plaasvervanger-stut in Durban sy toetsbuiging gemaak het, moontlik ook die tweede toets kan misloop. Hy sukkel met ’n stywe nek en ’n skandering sal vandag sy lot bepaal.
Greyling se een Bulls-stutmaat, Werner Kruger, kan Oosthuizen vervang, hoewel Meyer ook aan Greyling dink.
“Dit gaan ’n moeilike besluit wees oor wie op die plaasvervangersbank gaan wees, want Werner en Dean kan albei aan albei kante van die skrum sak,” het hy gesê.
“Ek was baie beïndruk met Coenie.
“Hy het iets spesiaals omtrent hom en as ’n ou wat gewoonlik loskopstut speel, het hy daardie een uitstekende skrum as vaskopstut gehad.”
Oor Kirchner het Meyer gesê hy sal deeglik besin oor wie hom moet vervang, maar Lambie lyk na sy keuse.
“Pat het goed gedoen toe hy as plaasvervanger opgestuur is en ek wil graag ’n bietjie bestendigheid (met spankeuse) behou.
“Hy het darem al heelagter gespeel. Dit is wel ’n spesialis-posisie.”
Volksblad