Volksblad

Heyneke soek nie pasella-drieë

Deur: Stephan Nell 2012-06-22 22:34
PORT ELIZABETH. – Reekswenners ja, maar daar bly vir die Springbokke baie op die spel in vandag se derde rugbytoets teen Engeland hier in die Nelson Mandelabaai-stadion.

Anders gestel: Hulle het baie om te verloor.

Terwyl daar heelwat positiewe dinge uit die eerste twee toetse onder Heyneke Meyer se afrigting gehaal kan word, sal ’n nederlaag in die derde toets die geesdrif demp vir die pad vorentoe.

Dit sal óók bepaal met hoeveel selfvertroue veral die jong manne die toekoms ingaan.

Meyer het vandeesweek geen twyfel gelaat nie dat dié toets nét so belangrik is as die twee wat hom voorafgegaan het, en dat die Bokke hul konsentrasie moet opskerp.

“Ek het baie agting vir die Engelse as span, maar ons het verlede Saterdag vir hulle drieë op ’n skinkbord gegee.

“Jou verdediging is deel van jou spankultuur, identiteit én karakter,” het Meyer gesê.

“Daar is in die media bespiegel dat ons deur beserings ontwrig is, maar dis nie ’n verskoning nie.

“Daardie ‘sagte’ oomblikke is nie iets wat debat regverdig nie. Dis bloot onaanvaarbaar.”

Daar het ons dit. Die Bokke was verlede week ná 20 minute se spel reeds met 22-3 voor.

Maar as Frans Steyn nie met die telling op 31-27 lank genoeg was om ’n Engelse steekskoppie uit die lug te pluk nie, sou daar pêrre gewees het.

Die geleentheid om die Engelse te verneder, is nie net verspeel nie, maar die wedstryd was tot JP Pietersen se oomblik van inspirasie in die weegskaal.

Meyer se vertoningslys by die Bulls toon dat hy ’n perfeksionis is en ’n meedoënlose span soek.

Dink net terug aan hoe die Stormers in 2005 met 75-14 verslaan is en hoe ’n yslike sege van 92-3 in hul laaste ligawedstryd teen die Reds in 2007 ’n halfeindstryd vir die Bulls tuis op Loftus verseker het.

Dís die gehalte wat die Bokke nog moet bereik en hul spel in veral die vaste fasette is vandag belangrik.

Daar word donderweer vir die Baai voorspel.

As die weerman dié keer in die kol is, sal fisieke en akkurate spel beloon word.

Die Bokke se aanpasbaarheid kan dus getoets word en in daardie geval sal ’n sege net méér vir ’n span in wording beteken.

•Skeidsregter: Steve Walsh (Australië).
Assistent-skeidsregters: Nigel Owens (Wallis) en John Lacey (Ierland).
TV-skeidsregter: Giulilo De Santis (Italië).

«Terug