BLOEMFONTEIN. – “Gaan vra maar my familie en vriende wat my goed ken, hulle sal aan jou kan sê dat die kapteinskap die beste uit my na vore sal bring.”
Só sê Robert Ebersohn, wat in die Springbok-haker Adriaan Strauss se afwesigheid as Vrystaat-kaptein aangewys is en Saterdag in Johannesburg in sy 50ste Curriebeker-rugbywedstryd teen die Leeus sal speel.
Dié 23-jarige senter het homself al voorheen as kaptein van die Jong Bokkies en Grey-kollege se eerstespan bewys en glo hy sal in sy nuwe Cheetahs-rol gedy. Die slot Izak van der Westhuizen is as Ebersohn se onder-kaptein aangewys.
“Toe Hawies (Fourie, hulp-afrigter) my twee weke gelede oor die kapteinskap gepols het, het ek min twyfel daaroor gehad. Ek het geweet ek is op die regte plek in my lewe.
“Ek is ook op die regte plek wat my rugby by die Cheetahs betref – veral omdat ek nou al in my 50ste wedstryd sal speel. Die verantwoordelikheid van kapteinskap plaas nie ekstra druk op my nie.”
Onder Ebersohn se kapteinskap volg die Vrystaters vanjaar ’n nuwe strategie en die voormalige Blitsbok glo sy span sal weer goeie rekenskap van homself gee.
“Ons het in die verlede (voor die begin van die Curriebeker-reeks) vir ons doelwitte gestel. Ons wou soveelste op die puntelys klaarmaak en x-hoeveelheid ligapunte gehad het.
“Maar ons doen dit nou anders. Ons gaan dit wedstryd-vir-wedstryd benader. Al ons fokus is tans net op die Leeus gerig. Ons wil die seisoen goed afskop.?.?.? dis belangrik vir ons.”
• Ebersohn-hulle sal die Curriebeker egter sonder verskeie beseerdes begin.
Die flank Heinrich Brüssow kan weens ’n kniebesering langer langs die kantlyn sit as wat aanvanklik vermoed is. Daar is gehoop dat hy reeds vir volgende Vrydag se tuiswedstryd teen die Blou Bulle oorweeg kon word.
Sy flankmaat Philip van der Walt (voet) sal eers oor sowat drie tot vier weke terugkeer.
Die vleuel Rayno Benjamin (skouer) sal hopelik in die derde kragmeting teen Griekwas kan speel, met die stut Coenie Oosthuizen (nek) en losskakel Johan Goosen (skouer) wat na verwagting oor sowat vyf weke teen die WP kan terugkeer.
Dis onseker hoe lank die slot Andries Ferreira se knie hom van die veld sal hou. Hy kon weens dié besering nie vir die stryd teen die Leeus oorweeg word nie.
Die haker PW van Vuuren (nek) sal ook nog minstens drie weke op die krukkelys wees. En dan word daar gehoop dat die Springbok-flank Juan Smith ná ’n enkelbesering nog in vanjaar se Curriebeker vir die Vrystaters kan speel.