Volksblad

Laaste keer vir Cheetahs in Rosestad

Deur: Jóhann Thormählen 2012-07-06 21:50
BLOEMFONTEIN. – Die een was as jong speler sonder ’n kontrak en die ander het byna ophou rugby speel om te gaan boer, maar dis by die Cheetahs wat albei wêreldwyd gesog geword het.

Ashley Johnson en WP Nel is twee van drie Cheetahs wat vandag hul laaste tuiswedstryd hier teen die Stormers speel.

Die ander een is die plaasvervanger-slot George Earle, terwyl die slot Izak van der Westhuizen ook in sy laaste Super-rugbywedstryd in die Vrystaat-stadion uitdraf. Van der Westhuizen sluit hom ná 2012 se Curriebeker-reeks by die Skotse klubspan Edinburgh aan.

Johnson (London Wasps), Nel (Edinburgh) en Earle (Llanelli Scarlets) vertrek ná die Super-reeks. Maar dis veral Johnson en Nel wat voor die Stormers-stryd ’n knop in die keel sal hê, aangesien hul sprokiesverhale hier begin het.

Johnson het by die Cheetahs ’n Springbok-agtsteman geword en Nel ’n vaskopstut wat vir die Barbarians op Twickenham uitgedraf het.

Die 26-jarige Nel het amper in 2009 gaan boer voor hy ’n Cheetah geword het. Hy het toe vir Durbell-rugbyklub gespeel nadat sy kontrak by die Westelike Provinsie, waar hy aan die Boland geleen is, verstryk het.

Province, soos sy spanmaats hom noem, kan nou oor drie jaar vir Skotland uitdraf indien sy loopbaan by Edinburgh suksesvol is.

“Dis môre (vandag) een die grootste wedstryde wat ek vir die Cheetahs sal speel. Dit sal maar seker ’n emosionele dag wees. Dis hier waar my rugbyloopbaan begin het. Ek kan net vir Naka-hulle dankie sê vir die geleentheid wat hulle my gegee het.

“Die tyd sal leer, dalk eindig ek weer eendag hier op,” sê Nel.

Die 26-jarige Johnson meen sy afskeid is nie eerste prioriteit nie. Maar ’n Stormers-sege, om die Cheetahs se beste Super-reeks te kroon, sal beslis die kersie op die koek wees.

“Daar was ’n tyd in my lewe toe ek jonger was wat ek sonder ’n kontrak gesit het en die Cheetahs het my ingevat.

“Toe het ek die kans gekry om Super-rugby en Curriebeker te speel en ’n Springbok te word,” sê hy.

**Die beseerde slot Andries Ferreira (skouer) is gister fiks verklaar. Die plaasvervanger-skrumskakel Tewis de Bruyn sukkel met ’n seer lies en sal tot die wedstryd kans gegee word om te herstel. Jacques Coetzee kan dalk op die bank sit.

*Die spanne is:
Cheetahs: Willie le Roux, Nico Scheepers, Robert Ebersohn, Barry Geel, Cameron Jacobs, Riaan Smit, Pieter van Zyl, Justin Downey, Lappies Labuschagné, Heinrich Brüssow, Izak van der Westhuizen, Andries Ferreira, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Trevor Nyakane. PLAASVERVANGERS: Hercu Liebenberg, Marcel van der Merwe, George Earle, Ashley Johnson, Tewis de Bruyn, Sias Ebersohn, Philip Snyman.

Stormers: Joe Pietersen, Gio Aplon, Juan de Jongh, Jean de Villiers (k), Bryan Habana, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Jebb Sinclair, Rynhardt Elstadt, Siya Kolisi, Andries Bekker, De Kock Steenkamp, Frans Malherbe, Deon Fourie, Steven Kitshoff.
PLAASVERVANGERS: Tiaan Liebenberg, Deon Carstens, Quinn Roux, Don Armand, Louis Schrueder, Burton Francis, Gerhard van den Heever.

Skeidsregter: Craig Joubert.
Afskop: 15:00.
«Terug