Volksblad

Naka: lostrio gerat

Deur: Jóhann Thormählen 2012-06-28 22:56

BLOEMFONTEIN. – Kom oor die voordeellyn!

Hoewel die een agter en die ander aan die kant van die skrum sak, sal die Cheetahs se Ashley Johnson en Bulls se Jacques Potgieter albei môre met dié opdrag in Pretoria uitdraf.

Boonop is albei Springbokke en speel hulle die direkte rugby waaroor Heyneke Meyer, die Bok-breier, so gaande is.

Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, het volle vertroue in Johnson se vermoë om die besoekers in die Super-rugbywedstryd momentum op die aanval te gee.

Hy slaap boonop rustig oor die lostrio wat hy vir die Bulls-stryd gekies het en is veral opgewonde oor die kombinasie wat John­son, Lappies Labuschagné en Heinrich Brüssow vorm.

Juis omdat hy meen dat Brüssow veel meer as net ’n baljagter is. Die flank is volgens sy afrigter ’n baie onderskatte baldraer en ewe goeie verdediger.

’n Behoorlike lostrio-kombinasie is juis iets wat Meyer nog voor die Rugbykampioenskap moet vind. In die onlangse toetsreeks teen Engeland het Marcell Coetzee en Willem Alberts uitgeblink, maar of hulle saam moet jag is nog ’n ope vraag.

Dis waar Brüssow en Johnson inkom. Indien dié twee hulle teen die Bulls se Bok-lostrio kan bewys, sal Meyer hulle nie net kan ignoreer nie.

Hoewel Potgieter hom in die Super-reeks beïndruk het, meen Drotské sy lostrio sal die mas teen hom, Pierre Spies en Dewald Potgieter opkom.

“Ek het baie gemoedsrus oor ons lostrio en hou veral van die kombinasie daarvan.

“Heins (Brüssow) sal terugkom ná hy nie onlangs vir die Bokke gekies is nie. Hy het die terugslag verwerk.

“Ashley gee ons baie momentum en is ’n sterk baldraer, terwyl Lappies homself al vantevore bewys het,” sê hy.

Dit sal boonop een van Johnson se laaste kanse in Suid-Afrika wees om Meyer te beïndruk voor hy oorsee gaan. Die bossiekop sluit hom ná die reeks by die Engelse klubspan London Wasps aan.

Dus sal hy op dieselfde wyse as Jacques as aggressiewe speler die oog wil tref. Die Bulls-flank het in 2012 sterk na vore getree – in só ’n mate dat hy verlede naweek sy Bok-buiging teen Engeland in Port Elizabeth kon maak.

“Hy (Jacques) is ’n kwaliteit-speler en het dit op Super-vlak gewys.

“’n Ou wat in sy eerste jaar van Super-rugby so ’n impak maak is beslis goed,” sê Drotské.

Die breier meen Brüssow se hoë werkverrigting sal ook in die Jakarandastad vir die Cheetahs van groot waarde wees.

“Heinrich is ’n baie onderskatte baldraer en ook ’n sterk verdediger.

“Hy beteken vir ons baie op die verdediging om ouens terug te duik.”

Volksblad
«Terug