BLOEMFONTEIN. – Dis dalk Curriebeker- en nie Super-rugby nie, maar beslis een van die kliphardste wedstryde waarin hy jaarliks speel.
Só sê Robert Ebersohn, die Vrystaat-kaptein, oor die naweek se Curriebeker-buurstryd tussen sy span en Griekwas.
Dié senter meen sy span se sege van 32-18 Vrydag hier oor die Blou Bulle was boonop vanweë die fisieke aard daarvan die perfekte voorbereiding vir die Poubloues.
Volgens Ebersohn sal daar Saterdag geen sprake van Super-tjomme wees wanneer die spanne in Kimberley uitdraf nie.
Die Cheetahs-afrigtingspan het hoeka gister sy spelers ’n blaaskans gegee ná die fisieke stryd teen die Bulle. Te veel Vrystaters het nog skete gehad en daarom kon ’n sinvolle oefening nie plaasvind nie.
Ebersohn is bly sy span kon teen die Bulle opstaan ná ’n swak vertoning in die eerste Curriebeker-naweek teen die Leeus in Johannesburg. Die Rooibontes het die Vrystaat met 34-20 geklop.
Veral die fisieke inklimspel wat die Vrystaat-slot Andries Ferreira en -flank Frans Viljoen teen die Bulle opgedis het, sal ook teen die Poubloues nodig wees.
“Wat lekker is, is dat die Bulle-wedstryd goeie voorbereiding was voordat ons teen Griekwas speel.
“Dis dalk ’n bietjie minder taktiese spel teen Griekwas en meer die fisiekheid wat ons net so uit die Bulle-stryd kan vorentoe vat,” sê Ebersohn.
“Dis lekker persoonlik teen Griekwas, want jy speel teen ouens saam met wie jy heeljaar Super-rugby gespeel het.
“Op die veld is ons nie meer maatjies nie en ’n ou gaan voluit. Dis uitdagend en jaarliks altyd een van my hardste wedstryde. Ek sien baie uit daarna.”
Verskeie van die Poubloues het nog ’n paar maande gelede vir die Cheetahs Super-rugby gespeel.
Die heelagter Willie le Roux en die flank Justin Downey was gereelde gesigte in die Super-span, terwyl die vleuel Rocco Jansen, die stut Lourens Adriaanse, die haker Ryno Barnes en die skrumskakel Jacques Coetzee ook gespeel het.
Le Roux behoort vandeesweek teen die Vrystaat terug te keer nadat hy ’n week lank weens ’n gevaarlike duikslag geskors was.
Die slot George Earle het ook as Griekwas-speler vir die Cheetahs diens gedoen, maar het hom intussen by die Walliese klubspan die Llanelli Scarlets aangesluit sonder om vir die Poubloues Curriebeker-rugby te speel.
Verder sal drie oud-Griekwas die eerste keer teen hul voormalige span in ’n amptelike Curriebeker-wedstryd speel. Die Vrystaat-senter Barry Geel, -skrumskakel Sarel Pretorius en -agtsteman Davon Raubenheimer was almal verlede jaar nog Poubloues.
• Volgens Naka Drotské, die Vrystaat-afrigter, sal sy losskakel Johan Goosen eers vandag ’n spesialis sien om te bepaal of hy die naweek van ’n skouerbesering kan terugkeer.
Hoewel Goosen al ’n geruime tyd saamoefen, kon hy nog nie aan kontakoefeninge deelneem nie.