Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Pat Lambie beter losskakel as nr.15

Deur: Stephen Nell 2012-06-06 05:30

DURBAN. – Patrick Lambie sal ’n beter generaal as manskap in die laaste vesting wees.

Só het die Springbokke se nuwe agterlyn-afrigter, Ricardo Loubscher, gister gesê toe hy gevra is waar die 21-jarige wonderkind van Suid-Afrikaanse rugby se toekoms in die Bok-span lê.

Lambie het vanjaar oorwegend losskakel vir die Sharks gespeel, maar het die Wêreldbeker-toernooi verlede jaar as Suid-Afrika se heelagter afgesluit.

Met Zane Kirchner wat straks vandag as die Bok-heelagter vir die eerste toets teen Engeland aangewys sal word, het dit vrae oor Lambie se Bok-toekoms laat ontstaan.

“Ek sou sê losskakel is sy beste posisie. Pat het by die Sharks die regte besluite onder druk geneem en dis wat jy van ’n losskakel verwag,” het Loubscher gesê.

Hy sluit egter nie die moontlikheid uit dat Lambie óók in die toekoms weer heelagter vir sy land kan speel nie.

“Dit hang af van wat jy op die dag nodig het. Hulle het verskillende sterkpunte. Zane is stewig onder hangskoppe en skop baie goed. Pat bied weer vir jou die X-faktor op losskakel.”

Loubscher het bygevoeg dat die Bokke se kaptein vir die reeks teen Engeland, Jean de Villiers, uitgeknip is om buitesenter in hul spesifieke wedstrydplan te speel.

De Villiers verkies om die nr.12-trui te dra en is die Stormers se staatmaker in daardie posisie.

“Ek verkies vir Jean op buitesenter vanweë die manier waarop ons speel. As jy direkte rugby speel, kan jou binnesenter jou oor die voordeellyn kry. Dán, wanneer die bal uitkom, sal jy jou beste besluitnemer as buitesenter hê,” het Loubscher gesê.

“Frans Steyn is vir my die beste op binnesenter, want jy het dan effektief twee losskakels. Ons is dan ook in ’n posisie waar ons goeie besluitnemers en taktiese skoppers op losskakel én binnesenter het.”

Steyn het in ’n goeie toestand uit Frankryk – waar hy tot onlangs nog vir Racing Metro gespeel het – teruggekeer en Loubscher beskou dit as ’n voorreg om met só ’n spesiale speler te kan werk.

“Frans was puik in Maandag se oefening. Sy vaardighede is besonder goed en hy het op ’n jong ouderdom reeds baie ervaring opgedoen. Ek is opgewonde oor die geleentheid om met hom te werk.”

Volksblad
«Terug