BLOEMFONTEIN. – Hy kan met bietjie skaafwerk in die “volmaakte skrumskakel” ontwikkel.
Só het die voormalige Springbok Werner Swanepoel voor vandag se Super-rugbywedstryd hier oor die Cheetahs se opwindende Pieter van Zyl gesê.
Die Cheetahs-uitblinker kan teen sy voormalige spanmaat Sarel Pretorius, wat ’n plaasvervanger vir die Waratahs is, te staan kom.
Die 22-jarige Van Zyl is eergister as een van drie skrumskakels in Heyneke Meyer, die Bok-breier, se laaste oefengroep voor die toetsreeks teen Engeland ingesluit. Die ander skrumskakels is Francois Hougaard en Jano Vermaak (albei Bulls).
Volgens Swanepoel verdien die buksie van Vrede met die vinnige voete dit om ingesluit te wees en is hy ’n speler vir die toekoms.
“Ons almal weet Francois Hougaard is ’n ongelooflike speler – of hy nou skrumskakel of vleuel speel.
“Jano Vermaak kry dalk nie so baie speelkans by die Bulls nie, maar het baie ervaring en het jare gelede al aan die Bok-span se deur geklop.
“Ek is baie bly vir Piet. Ek het al baie van sy wedstryde uitgesaai, hou hom dop en hy is beslis ’n speler vir die toekoms,” het Swanepoel gesê.
Hoewel Smiley, Swanepoel se bynaam, nie fout vind met Meyer se keuses nie, meen hy daar kan nie heeltemal van Ruan Pienaar vergeet word nie. Meyer het nie oorsese spelers oorweeg nie.
Pienaar, wat vir die Ierse klubspan Ulster speel, was vanjaar ’n ster in die Heinekenbeker-reeks en is Swanepoel se Bok-adjudant vir Hougaard.
Die oud-Bok meen Pienaar is vanweë sy akkurate stelskopwerk ’n groot bate.
Maar Swanepoel voorspel ’n groot toekoms vir Van Zyl.
“Piet het dalk nog nie die meeste van sy skopvoet gemaak nie, maar die Cheetahs speel ook nie juis so nie.
“As hy kan leer om die bal nes Fourie du Preez op ’n tiekie te skop, kan hy ’n volmaakte skrumskakel word.”
Van Zyl het ’n voorliefde vir pypkan en Swanepoel meen hy oordoen dit ook nie.
“Die lekker ding van Piet is sy breekslag, maar sy opsies is ook goed.
“Hy breek nie te veel nie. Dis altyd die gevaar as ’n skrumskakel ’n goeie breekslag het.
“Wanneer Piet aangee, skop of breek, doen hy dit op die regte tyd.”
Terwyl Van Zyl Meyer se vertroue in hom met ’n goeie Waratahs-vertoning sal wil beloon, sal sy senter Robert Ebersohn wil wys die Bok-afrigter moes hom gekies het.
Ebersohn is ongelukkig om nie die Bok-groep te haal nie. Hy was ’n gunsteling om kans te kry, aangesien Jaque Fourie nie meer beskikbaar is nie. Ebersohn het verlede week skerp op aanval teen die Sharks gelyk.
)Die spanne is:
Cheetahs: Hennie Daniller, Rocco Jansen, Robert Ebersohn, Andries Strauss, Willie le Roux, Riaan Smit, Pieter van Zyl, Philip van der Walt, Ashley Johnson, Heinrich Brüssow, Andries Ferreira, Izak van der Westhuizen, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Coenie Oosthuizen. PLAASVERVANGERS: Hercu Liebenberg, Trevor Nyakane, Francois Uys, Justin Downey, Tewis de Bruyn, Sias Ebersohn, Philip Snyman.
Waratahs: Bernard Foley, Tom Kingston, Rob Horne, Adam Ashley-Cooper, Drew Mitchell, Berrick Barnes, Brendan McKibbin, Wycliff Palu, Chris Alcock, Dave Dennis, Kane Douglas, Sitaleki Timani, Sekope Kepu, Tatafu Polota-Nau, Benn Robinson (k). PLAASVERVANGERS: John Ulugia, Jeremy Tilse, Richard Stanford, Lopeti Timani, Sarel Pretorius, Daniel Halangahu, Tom Carter.
Skeidsregter: Craig Joubert.
Volksblad