Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Sarel sal Super word, sê Naka

Deur: Jóhann Thormählen 2012-07-22 22:34
BLOEMFONTEIN. – Sy besluitneming was goed en hy sal voor die Curriebeker-rugbyreeks skerper word.

Só het Naka Drotské, die Vrystaat se afrigter, gister oor die skrumskakel, Sarel Pretorius, se vertoning Saterdag in sy span se Curriebeker-oefenwedstryd teen Griekwas gesê.

Die breier meen Super-Sarel het ’n bestendige vertoning teen sy ou Curriebeker-spanmaats in Kathu gelewer en dit was verblydend om hom, asook die flanke Kabamba Floors en Frans Viljoen, in aksie te sien.

Pretorius, wat verlede week vanaf die Waratahs hier aangekom het, het aan die einde van die Super-reeks min speelkans by sy Australiese span gekry, terwyl Floors (knie) en Viljoen (arm) van beserings teruggekeer het.

’n Eindtelling van 43-25 in die Poubloues se guns was nie vir Drotské die belangrikste nie, aangesien hy met ’n uitgedunde span gespeel het. Die Cheetahs se vernaamste Super-spelers het gerus en die Griekwas het boonop twee spanne, 31 spelers, ingespan.

“Die telling is irrelevant. Griekwas het elkgeval met twee spanne, ’n B-span in die eerste helfte en ’n A-span in die tweede, gespeel.

“Die belangrikste was dat ouens soos Kabamba en Frans, wat lanklaas gespeel het, kon speel.

“Schalk (Hond) van der Merwe het ook die eerste keer in maande ná ’n nekbesering gespeel en was goed, terwyl Sarel min by die Waratahs kans gekry het,” het Drotské gesê.

“Sarel het die basiese dinge goed gedoen. Hy het ’n bestendige wedstryd gehad en sy besluitneming was goed.

“Hy sal van hier af net skerper word.”

Volgens hom is die Vrystaters deur ’n klomp beserings teen die Poubloues ontwrig, maar was niks daarvan te ernstig nie.

Sy losskakel, Sias Ebersohn (enkel), is teen rustyd deur Inus Kritzinger vervang en sy agtsteman, Boom Prinsloo (heup), en plaasvervanger-flank, Oupa Mohoje, moes ook weens beserings die veld verlaat.

Maar Drotské is verheug oor veral Floors én ook Viljoen se terugkeer.

“Albei (Floors-hulle) was goed op die verdediging. Kabamba het goed gedoen vir iemand wat sowat 13 maande laas gespeel het.

“ Hy het balle gesteel en was redelik skerp. Dis verblydend voor die Curriebeker dat Frans en Kabamba fisiek was,” het Drotske gesê. 
«Terug