Volksblad WEBWERWE/DIENSTE >

Sharks groot ligpunt vir SA

Deur: Pieter Jordaan 2012-12-23 21:42
As jy die uithouvermoë gehad het om Super-rugby oor sewe maande heen enduit te volg, is jy met ’n paar spesiale oomblikke beloon – soos dat drie Suid-Afrikaanse spanne die uitklopronde gehaal het. Ná 125 wedstryde in die reeks, het die volgende vir Pieter Jordaan uitgestaan.

1. Sharks verras in vreemde
21 Julie


Toe die Sharks rakelings kwalifiseer om ’n uitklopstryd teen die Reds in Brisbane te speel, is hul wenkanse wyd afgelag.

Toe hulle dit wél regkry, moes Keegan Daniel se span al die pad na Kaapstad vir ’n halfeindstryd teen die omgesukkelde Stormers.

En wéér is die Durbaniete se twyfelaars laat skaamkry. Om die eindstryd só te haal was ’n geweldige prestasie, maar hul reis na Nieu-Seeland was uiteindelik ’n tree té ver.

Op die keper beskou, was die spel van veral Bismarck du Plessis en JP Pietersen in dié reeks uitstaande.

2. Chiefs maak dit 6
4 Augustus


Hamilton, die tuiste van Chiefs-rugby, is kleiner as Bloemfontein – tog het hul kenmerklike Mooloo-klokke vanjaar harder as ooit tevore langs die veld gelui.

In altesaam 16 voorafgaande seisoene kon net vyf spanne ’n reeks in Super-rugby wen, maar die Chiefs maak dit ses deur die Sharks in die eindstryd met 37-6 af te ransel.

Hulle het selfs die magtige Crusaders padlangs oortref met ’n agterlyn vol sterre soos Tawera Kerr-Barlow, Aaron Cruden en Sonny Bill Williams.

Dit was egter die glimlaggende loskopstut, Sona Taumalolo, sy span se grootste drieëvraat nadat hy nege keer gaan druk het.

3. Lions kry Super-dwarsklap
16 Augustus


Nie nét is die Lions in vanjaar se reeks teruggebring aarde toe ná hul Curriebeker-sukses verlede seisoen nie; die Johannesburgers moes óók hoor hulle sal nie in 2013 op die Super-verhoog te sien wees nie.

Dié franchise moes plekmaak vir die Southern Kings, wat volgende jaar hul buiging sal maak in dié kompetisie.

Boonop vlot alles ook nie van die veld af nie. Die Lions-afrigter, John Mitchell, word tydelik geskors ná klagtes oor sy bestuur van die span en hoewel hy later heraangestel word, blyk sy invloed by dié span iets van die verlede te wees.

4. Môre se Bokke gebore
24 Februarie - 4 Augustus


Suid-Afrika se nuutste jong sterre het vanjaar selfs die Kiwi’s én die Aussies aan die praat gehad. Net een speler met die talent van Marcell Coetzee, Eben Etzebeth, Johan Goosen of Siya Kolisi sou genoeg gewees het om selfs die grootste Bok-twyfelaar te laat glimlag – tog het ál vier in vanjaar se reeks opgang gemaak.

Boonop het spelers propvol belofte – soos Paul Jordaan, Steven Kitshoff, Piet van Zyl en Jaco Taute – óók tussen die grotes deurgeskemer én was die Bulls se Bjorn Basson gesamentlik die reeks se voorste driedrukker (met 10).

5. Jake laat Brumbies herrys
24 Februarie


Hy is nie almal se gunsteling nie, maar met sy vertoningslys kan jy nie stry nie.

Diegene wat gedink het sy verowering van die Wêreldbeker as Springbok-afrigter was ’n gelukskoot, sou hul hande regverdigend gevryf het toe White vanjaar die sukkelende Brumbies in Canberra vir die eerste keer teen die Force op die veld gelei het.

Sy span vol onbekendes het egter vriend en vyand verras en was ongelukkig om nie die uitklopronde te haal nie.

Onder White het dié eens magtige span vir die eerste keer sedert die dae van George Gregan en Stephen Larkham weer na ’n krag begin lyk.

«Terug