PORT ELIZABETH. – Wat het die All Black-senter Sonny Bill Williams en die omstrede Nieu-Seelandse skeidsregter Bryce Lawrence gemeen?
Al twee het gister daartoe bygedra dat die Crusaders ’n opwindende Super-rugbywedstryd teen die Chiefs in Hamilton gewen het.
Die Crusaders was met 28-21 baas nadat hulle danksy ’n baie goeie eerste helfte met die rustyd met 20-16 voorgeloop het.
Ai, ou Sonny Bill... Die begaafde senter het in die tweede helfte ’n goeie drie gedruk toe hy deur ’n paar duikslae getol het.
Daardie drie het die Chiefs se hoop laat opvlam dat hulle tog, ondanks hul voorspelers wat afgetjop het teen die Crusaders, sou kon wen.
Maar toe, teen die einde haak Williams se kop uit. Met twee manne langs hom oop en die doellyn wat wag, het hy met krag probeer deurbars.
As die Chiefs daardie drie gedruk en met die doelskop geslaag het, was die eindtelling gelykop.
Eintlik moes die telling anders gelyk het, maar Lawrence het weer bewys hy moet liewer uittree as rugbybeampte.
Selfs as TV--skeidsregter kan dié man nie die regte besluite neem nie!
Vir die hele wêreld was dit duidelik dat die Crusaders-skrumskakel, Andy Ellis, se drie in die tweede helfte nie toegeken moes word nie.
Ellis het kortgeval en sy onmiddellike teenstander, Tawera Kerr-Barlow, het hom van die doellyn af weggehou.
Toe duik die Crusaders-slot Sam Whitelock soos ’n waansinnige ysbeer van agter in en skuif Ellis oor die lyn in wat duidelik ’n tweede beweging was.
Weer en weer kyk Lawrence na die beeldmateriaal. En ken die drie toe!
“Bisar!” was die uitroepe van die TV-kommentators, maar nou ja, Lawrence het sy beslissing gemaak.
Puntemakers:
Crusaders 28 (20): Drieë: Kieran Read, Luke Romano, Andy Ellis. Doelskoppe: Dan Carter (2). Strafdoele: Carter (2). Skepdoel: Carter.
Chiefs 21 (16): Drieë: Brodie Retallick, Sonny Bill Williams. Doelskop: Aaron Cruden. Strafdoele: Cruden (3).
** Dit was maar eina, maar die Reds is met hul sege van 19-13 gister in Brisbane oor die Highlanders steeds in die wedloop om tussen die ses voorste spanne in die Superreeks te eindig, skryf Gerdie Karstens.
Dit was so hittete of die wenspan het nie vandag met ’n glimlag rondgeloop nie.
Die Highlanders het tot in die laaste sekondes voortbaklei en die wedstryd op die Reds se doellyn afgesluit toe hulle nie deur die verdediging kon breek nie.
In teenstelling daarmee was die eerste helfte bra saai, met Mike Harris en Mike Delany, wat met hul skopskoene die tellinghouer darem so ietsie gegee het om die tyd mee te verwyl.
Harris se bydrae van 14 punte was deurslaggewend.
Puntemakers:
Reds 19 (6):Drie: James Slipper. Doelskop: Mike Harris. Strafdoele: Harris (4).
Highlanders 13 (3): Drieë: Chris King, Adam Thomson. Strafdoel: Mike Delany.