BLOEMFONTEIN. – Tewis de Bruyn se Cheetah-lewe is nog nie verby nie.
Die ervare skrumskakel sal ook vir 2012 se Curriebeker-reeks vir die Vrystaat beskikbaar wees.
De Bruyn se kontrak het ná vanjaar se Super-rugbyreeks verstryk en dit was onseker of hy langer hier beskikbaar sou wees.
Volgens Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, het die 29-jarige De Bruyn sy kontrak met drie maande, tot ná vanjaar se Curriebeker-reeks verleng.
Hy sal dus een van drie bekwame skrumskakels tot die Vrystaters se beskikking wees.
Die ander twee is Pieter van Zyl, wat onlangs sy kontrak tot einde 2013 verleng het, en Sarel Pretorius, wat vir 2012 en 2013 se Curriebeker ’n Cheetah is. Pretorius speel Super-rugby vir die Waratahs en keer ná dié reeks terug na Suid-Afrika.
De Bruyn se beskikbaarheid maak die wedywering vir ’n skrumskakel-plek in die Vrystaat se 22-tal vir die Curriebeker selfs nóg sterker.
Indien al drie skrumskakels fiks én beskikbaar is, sal een van hulle dus die naweke se kragmetings misloop.
Volgens Drotské het Van Zyl tydens die onlangse toetsreeks teen Engeland saam met die Springbokke geoefen en kort hy ’n derde skrumskakel as iemand seerkry.
Van Zyl was een van ses belowende jong spelers wat saam met die Bokke geoefen het, maar is nie vir die toetse teen die Rose oorweeg nie.
Dit is dus moontlik dat hy in die toekoms deur Heyneke Meyer, die Springbok-breier, nader getrek kan word.
“As een ou seerkry of daar is beserings by die Bokke en Piet word opgetrek, dan kort ons nog ’n skrumskakel,” sê Drotské.
De Bruyn het vanjaar heelwat beter vertoon nadat hy in die Super-reeks se voorseisoen ’n draai by die Franse klubspan Lyon gemaak het.
Hy was daarom ook dikwels in die Super-reeks in die Cheetahs se beginspan, met Van Zyl ’n plaasvervanger.
Intussen het Drotské bevestig die flank Philip van der Walt het ’n voetoperasie ondergaan en sal nie soos verwag vir die laaste Super-wedstryd, teen die Sharks, oorweeg word nie.
Die rooikop sal sowat ses weke uit en in ’n wedloop teen tyd gewikkel wees om betyds vir die eerste Curriebeker-wedstryd, op 11 Augustus teen die Leeus, te herstel.
Die slot Andries Ferreira, wat in Saterdag se Super-kragmeting met die Bulls ’n skouerbesering opgedoen het, sal volgens Drotské tot Donderdag kans gegun word om te herstel.