WELKOM. – Die Valke het gister hier in die Noordwes-stadion ’n agterstand van 5-22 uitgewis om die Griffons met 39-36 in hul Eersteliga-rugbystryd te verras.
Die plaasvervanger-losskakel van die Skarlakenrooies, Jaun Kotzé, het ná die sirene met ’n strafskop geslaag om hulle te laat seëvier.
Dít was maar hul tweede sege in agt wedstryde in die Curriebeker-reeks.
Die Griffons sal hulself skop vir die nederlaag nadat hulle rustyd met 22-10 voorgeloop het.
Die tuisspan het kort ná die halfuur sy bonuspunt-drie gedruk en dit het gelyk asof die Perses ’n wegholsege gaan behaal.
Hulle was te oorywerig, terwyl ’n string beserings onder die besoekers en die oponthoud daarvoor, spel in die eerste 40 minute gerem het.
’n Drie net voor rustyd en kort ná die hervatting van die tweede helfte deur die Valke se twee uitblinkers in die agterlyn, die plaasvervanger-skrumskakel, Anrich Richter, en die heelagter, JW Bell, het die besoekers terug in die prentjie geplaas.
Dit was die vonk waarna hulle gesoek het nadat hulle in die eerste helfte talle hanteerfoute in kontak op die aanval gemaak het.
Bell was die Speler van die Wedstryd met ’n driekuns aan drieë.
Die eerste van sy twee drieë van tikskoppies naby die doellyn het die Valke gelykop – 29-elk – laat trek.
Die besoekers het in die tydjie wat die Griffons-vleuel Reinhardt Erwee met ’n geelkaart af was, die eerste keer die voortou geneem.
Agtereenvolgende drieë deur hul slot Chris Ehlers en plaasvervanger-skrumskakel, Ossie Nortje, het die Griffons met 36-29 laat voorloop voordat Bell weer ná ’n vinnige tikskoppie onder die pale oorgeval het.
Puntemakers: Valke 39 (10): Drieë: Nico Engelbrecht, Anrich Richter (2), JW Bell (3). Doelskoppe: Karlo Aspeling (2), Jaun Kotzé. Strafdoel: Kotzé.
Griffons 36 (22): Drieë: Rudi Britz, Nicky Steyn (2), Reinhardt Erwee, Chris Ehlers, Ossie Nortje. Doelskoppe: Tiaan van Wyk, Hansie Graaff (2)
In Nelspruit het die Pumas die Luiperds met 38-27 geklop. Die wenspan was rustyd met 18-10 voor.
Albei spanne het vier drieë gedruk.
In Port Elizabeth het die OP-Kings ’n pragvertoning gelewer deur die Boland met 57-19 kaf te draf, berig Michael Green.
Die tuisspan was met die rustyd reeds met 36-5 voor.
Die Kings het hul bonuspunt vir vier drieë elf minute voor die rustyd gekry toe hul losskakel, Wesley Dunlop, gaan druk het.
Die SWD-Arende het die Grens-Bulldogs naelskraap met 33-27 in Oos-Londen geklop.