KIMBERLEY. – Die Bulls-slot Juandré Kruger is sy eerste keuse om die beseerde Andries Bekker se plek in die Springbok-span vir die toetsreeks vandeesmaand teen Engeland vol te staan.
Só sê die gewese Bok-slot en lynstaan-ghoeroe Victor Matfield oor wie hy glo die beste plaasvervanger sal wees om in die beseerde Bekker se afwesigheid die nr.5-trui oor die kop te trek.
Die Stormers het Woensdag bevestig dat die lenige Bekker se lae rug weer probleme gee en dat hy minstens die volgende vyf weke sake langs die kantlyn sal dophou.
Dit beteken dat die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, hom nie vir die reeks teen Engeland kan oorweeg nie.
Dis dalk ’n brokkie nuus waaraan Meyer swaar sluk, maar Matfield glo dat, gemeet aan sy huidige spelpeil, Kruger die aangewese keuse is om die Engelse in dié sleutel-posisie aan te durf.
Dit sal nie verbaas as Meyer dalk die gesoute Johann Muller (Ulster) gebel het nie. Met 24 toetse op sy kerfstok, is hy beslis ook ’n keuse om vir die Bokke teen Engeland diens te doen.
Die Bok-breier kan in ’n uiterste geval ook vir Anton Bresler (Sharks) of Wilhelm Steenkamp (Bulls) oorweeg, hoewel dit straks die laaste uitweg is.
“Andries se besering is ’n groot slag vir die Springbokke, want hy het baie ervaring. Dit is jammer dat hy nie oorweeg kan word nie, maar ons is steeds gelukkig om iemand soos Juandré beskikbaar te hê,” het Matfield gister gesê.
“As ’n mens na die Bulls se statistiek in die Super-reeks gaan kyk, staan hy (Kruger) voor in die ry vir insluiting. Hy staan veral met sy lynstaanspel kop en skouers uit bo die res. Hy sal my keuse as nr. 5-slot wees.”
Hoewel die Engelse se lynstaanspel die afgelope naweek teen die Barbarians bestendig was, glo Matfield dat dit die één afdeling is waar die Springbokke die besoekers kan teiken.
“As ’n mens kyk na hul slotte, is dit beslis ’n area wat die Bokke kan gebruik om hulle onder groot druk te plaas. Wéér sal Juandré van groot nut wees, want hy het saam met die haker Dylan Hartley by die Northampton Saints gespeel – en hy sal kennis dra hoe hulle in die lynstane te werk gaan.”
Daar is genoeg om van te kies wie Kruger se slotmaat teen die Engelse moet wees, met veral Eben Etzebeth (Stormers) en die Bulls se Flip van der Merwe wat Matfield beïndruk het. “Ons is redelik gemaklik op nr.4-slot met Eben en Flip daar. Albei het met goeie inklimspel tot dusver bewys wat in hulle steek.
“Dan is daar ook iemand soos die Lions se Franco van der Merwe wat later oorweeg kan word. Hy speel dalk vir ’n verloorspan, maar het my beïndruk.”
Volksblad