PRETORIA. – Die binnesenter Wynand Olivier sal môre, wanneer die Bulls die Cheetahs op Loftus takel, vir die 100ste keer in ’n Bulls-trui uitdraf.
“Om 100 wedstryde vir die Bulls te speel, was een van my groot doelwitte. Om dit te kan bereik is ’n ongelooflike gevoel,” het Olivier gister gesê.
“Al die spanmaats saam met wie ek gespeel het, het ’n groot invloed op my lewe gehad. Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat ek gekry het.”
Olivier het gesê hy is nog nie seker hoe hy dié mylpaal ná die wedstryd môre sal vier nie.
“Baie van my familie en vriende gaan by die wedstryd wees, so hopelik kan ons almal ná die tyd iewers ’n bietjie saam kuier,” het hy gesê.
Hy weet ook nie of sy spanmaats iets spesiaals vir hom beplan nie.
“Ek weet Wynie-hulle (Wynie Strydom, spanbestuurder) maak dit altyd met sulke geleenthede vir die ouens spesiaal met ’n paar koue biere in die kleedkamers ná die tyd of so iets. Ons sal maar sien.”
Uit die 99 Bulls-wedstryde wat hy al gespeel het, is sy gunstelingwedstryd sover die Super14-eindstryd in 2009 teen die Chiefs, toe die Bulls gewen en hy as speler van die wedstryd aangewys is.
Hy het ook die Super14-eindstryde van 2007 en 2010, sowel as die 2006-halfeindstryd teen die Stormers op Nuweland en die 2007-wedstryd op Loftus Versfeld toe die Bulls die Reds met 92-3 gewen het, uitgesonder.
“Daar is nog baie ander wedstryde en oomblikke wat besonders was. Ek wil al my ondersteuners, vriende, familie en spanmaats vir hul ondersteuning en bystand oor die jare bedank.”
Olivier is oortuig die Bulls is slaggereed om môre die Cheetahs te kan uitoorlê.
“Ons is nooit ingestel om te verloor nie. Die Cheetahs het die afgelope ruk al hoe harder geraak, maar ons is terug op Loftus so dit sal iets wees om na uit te sien,” het hy gesê.
Volksblad